“My hardloop is my medisyne. Dit hou my gesond en maak van my ‘n sterker mens – fisiek, asook geestelik. Ek voel naby aan die natuur en aan my hemelse Vader, wat alles moontlik maak vir my.”
Só sê Charmaine Nortier, Welkom se ystervrou-atleet wat vanjaar haar tiende Comrades voltooi het.
Nortier is in Oos-London gebore en het in ou Rhodesië grootgeword. In 1980, toe sy 10 jaar oud was, het haar gesin na Virginia verhuis nadat die regering oorgeneem is.
“Ek was nog altyd aktief, maar het in 2000 begin met hardloop. Dit het begin met lamppaal tot lamppaal. Ek het dit glad nie geniet nie, maar stadig het ek langer afstande begin aandurf,” vertel sy.
Haar eerste wedloop was die Mielie-wedloop in 2000 en eerste Comrades-wedloop in 2013.

Sedertdien het sy 24 wedlope – vyf Two Oceans (56 km), een Swasap Ultra, 10 Comrades en verskeie padwedlope voltooi. Van hulle sluit in die Vaal Cape Gate-wedloop, Sasol-wedloop, Bielie Mielie-wedloop, Goss and Balfe-wedloop, Lemo Mall-wedloop, Wildsfees-wedloop, Robor Scaffolding-wedloop, Rand Water-wedloop en Sedibeng-wedloop.
Sy hardloop ongeveer drie tot vier wedlope ‘n jaar wat sy gebruik vir voorbereiding vir die Comrades. Deur die loop van die jaar voltooi sy ook afstande van 21 km en 10 km. Sy hardloop vier tot vyf keer ‘n week, vroeg oggend wanneer dit nog donker is. In die naweek hardloop sy haar lang afstand van ongeveer twee tot drie uur.
“Ek doen dit met die ondersteuning van my man. Ek is eienaar van twee besighede, Charmaine’s Shooga Shack in Virginia en by die Goldfields Mall in Welkom.
“My tyd is beperk, en dus is dit moeilik om ‘n balans te handhaaf tussen werk en al die verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan. Daarom doen ek my sessies hoofsaaklik vroeg oggend,” verduidelik sy.

wedloop vir die Virginia DBV voltooi. Sy het R6 865 ingesamel. FOTO: Verskaf
Nortier het vanjaar aan die Comrades-wedloop deelgeneem en voltooi vir die Virginia DBV, wat baie naby aan haar hart lê. Hulle het R1 per kilometer gevra en het altesaam ‘n bedrag van R12 385 ingesamel, waarvan R6 865 op haar naam ingesamel is.
“Dit is ‘n ongelooflike voorreg om vir die organisasie te hardloop,” sê sy.
In Maart 2018 is Nortier met kolo-rektale kanker gediagnoseer. Ná chemoterapie, bestraling en ‘n groot operasie in Oktober 2018 waarin 25 cm van haar dunderm verwyder is asook haar rektum, weet sy dat enigiets moontlik is alleenlik met die krag en genade van haar hemelse Vader.
“Ek weet dit omdat daar wonderwerke plaasgevind het in my lewe wat nie verklaar kan word nie, wat die dokters stomgeslaan het. Die pad vorentoe was nie maklik nie en my hele lewe het ná die operasie verander.
“Ek het geleer om aan te pas by my situasie. Ek het nie ‘n keuse gehad nie,” sê sy.
In 2018, tydens chemobehandeling, het sy haar vyfde Two Oceans-in April en haar sesde Comrades-wedloop in Junie voltooi.
“Deur al die gebeure het ek die ondersteuning van my familie en vriende ontvang wat my gedra het en in staat gestel het om dit te oorwin. Ek gaan jaarliks vir my opvolg-ondersoeke en tot dusver is ek 100% gesond verklaar,” vertel sy.
Nortier is ‘n lid van die Harmony Striders-klub en neem gereeld aan padwedlope deel.
LEES OOK: Walker ‘n top-hardloper





You must be logged in to post a comment.