Ons hou daarvan om in beheer te wees, maar die Here sê in sy Woord ons kan nie weet wat môre gaan gebeur nie, en ons kan nie ‘n sekonde by ons lewe voeg deur onsself te bekommer nie.
Spreuke 19:21 sê ons mense maak planne, maar op die ou einde gebeur wat die Here besluit het. Jakobus 4:15 sê ons moet eerder sê as die Here dit so beskik, sal ons môre lewe en dit of dat doen en Romeine 8:28 sê dit is juis die Here wat alles in ons lewe ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.
Kersfees is gewoonlik ‘n vrolike en rustige tyd, maar dit is nie waar vir almal nie.
Die gebeure rondom die geboorte van Jesus was ‘n onseker tyd. Niks het uitgewerk soos Josef en Maria dit beplan het nie. Hulle het onverwags swanger geword en toe moes hulle Bethlehem toe gaan om geregistreer te word. Tydens die reis is Jesus gebore, maar hulle kon nie blyplek kry nie en moes met ‘n pasgebore kindjie in ‘n stal bly. Kort ná die geboorte moes hulle vlug omdat die koning die kindjie wou doodmaak.

Ons lewe werk dikwels so. Daar het in jou lewe ook al goed gebeur wat jy nie verwag het nie: siekte, werkverlies, huweliks- of verhoudingsprobleme; of dalk is daar vanjaar ‘n leë stoel aan jou Kersfeestafel.
Ons begeerte om te beheer, kom uit ‘n gebrek aan vertroue en geloof. In Matteus 18:3-4 sê die Here ons moet soos kindertjies wees wat nie wil beheer nie. Kindertjies leef sorgvry en geniet die lewe, omdat iemand anders sorg. Psalm 37:5 moedig ons aan om die Here te vertrou en ons lewe aan die Here oor te gee; dan sal Hy sorg. Korintiërs 2:9-10 sê God het besluit en God het gedoen wat geen mens kon bedink of doen nie.
Die oplossing, of verlossing, wat God met Kersfees gebring het, is so vreemd dat mense dit vandag nog nie verstaan nie. Net God kon die mensdom op so ‘n manier verlos en vrykoop. As God dit kon doen sonder jou, waarom vertrou jy Hom nie ook met die res van jou lewe nie? Wat laat jou dink jy kan beter planne maak as God? Wat laat jou dink jy kan jouself op ‘n beter manier red?
Met Kersfees sê die Here vir ons: Ons hoef nie in beheer te wees nie. Ons hoef nie te probeer beheer wat ander mense van ons dink nie. Ons hoef nie die toekoms te probeer beheer nie. Ons hoef nie ons huweliksmaat of ons kinders of ons werksituasie en probleme self te beheer nie.
Volgens 1 Petrus 5:7, gee liewer al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om en Hy sal sorg.
Mag die Kerstyd vir jou ‘n tyd van oorgawe wees, waarin jy die Here kans gee om nuwe lewe in jou te skep. – Peet Louw, Erfdeel gemeente in Riebeeckstad






You must be logged in to post a comment.