Die twee mans wat Pieter (56) en Eddie Hills (26) in 2020 vermoor het, is elk twee lewenslange vonnisse en vyf jaar vir huisroof opgelê.
Hulle is Vrydag (17/02) in die rondgaande hof in Welkom gevonnis nadat hulle elk op twee aanklagte van dubbele moord en een van huisroof skuld beken het.
Die twee moordenaars, Mojalefa Louis Modise (40) van Ventersburg en Arthur Maloka (40) van Johnnesburg, se pleit is bekragtig en hulle is albei op dieselfde dag gevonnis.
Die ondersoek is deur speursersant Richard Dlanga van die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade gedoen.
Die moorde is op die Hills-familieplaas in die Hennenman-distrik gepleeg.
Die slagoffers is op 6 November 2020 omstreeks 06:00 binne die huis ontdek nadat Pieter se vrou, wat toe uitstedig was, die huishulp gevra het om ondersoek in te stel omdat haar man nie sy foon beantwoord nie.
Die huishulp het op die pa en seun afgekom waar hulle in ’n plas bloed gelê het. Die huis was geplunder. Sy het die vrou gekontak, wat op haar beurt die polisie in Hennenman in kennis gestel het.
’n Saak van dubbele moord en huisroof is vir verdere ondersoek geregistreer.
Drie mans is aanvanklik in hegtenis geneem. Die een verdagte het homself egter in die aanhoudingsel van die Hennenman-polisiekantoor om die lewe gebring.
Die provinsiale kommissaris van die Vrystaat, lt. genl. Baile Motswenyane, het die spanpoging van Hennenman-speurders, die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad en misdaadintelligensie geloof vir die ondersoek wat tot die inhegtenisneming gelei het.
“Die deeglike ondersoek het daartoe gelei dat hierdie swaar vonnisse opgelê is, en dit sal ’n duidelike boodskap aan misdadigers stuur,” sê Motswenyane.





