‘n Reuse-liggiefees-en-straatmark vind op Vrydag 5 Desember voor die Bult-aftreeoord in Bultfontein plaas.
Die verrigtinge open om 16:00 en duur tot laataand.
Word met duisende liggies opgetower

Die vooraansig van die aftree-oord word met duisende liggies opgetower en dit sal die aand tydens die feesvieringe aangeskakel word. Dit sal daarna vir die res van Desember aangeskakel bly.
Die straat voor die aftree-oord word vir hierdie doel afgesper en in ‘n reuse-teetuin omskep.
Daar sal ongeveer 40 stalletjies wees wat die gees en atmosfeer van Kersfees uitstraal.
‘n Groot verskeidenheid Kersgeskenke sal dan hier te koop aangebied word. Daar sal ook talle kosstalletjes wees.
Benewens die teetuin sal ‘n restaurant met braaivleis-etes, pannekoek en poedings, asook talle ander kos-stalletjies daartoe bydra om die innerlike te versterk.
‘n Rits vermaak-aktiwiteite word vir die kinders gereël. Stalletjies met roomys, spookasem, stokwors en baie meer word spesiaal vir die kinders gebied.
Verhoog ook opgestel
Musiek, sang en orkeste sal deurlopend vermaak verskaf en die gees van Kersfees uitdra.
Die publiek word genooi om saam makietie te kom hou en só die Kerstyd op ‘n besonderse wyse te begin.






You must be logged in to post a comment.