Thinus Botha en sy vrou, Charlene, saam met hul kinders, Zian Botha (12) en sy sussie Linke (8).

‘n Seun (12) van Welkom, Zian Botha, ly aan komplekse gedeeltelike aanvalle en konvulsiewe aanvalle wat ‘n vorm van epilepsie is. Hy is gediagnoseer nadat hy sonder waarskuwing begin aanvalle kry het.

Hy is vier jaar gelede gediagnoseer met ADHD wat die voorloper was van die epileptiese aanvalle wat in 2025 begin het.

Zian se ouma, Tilla Oosthuizen, sê komplekse gedeeltelike aanvalle behels ‘n veranderde bewussyntoestand, en konvulsiewe aanvalle , dikwels “grandmal” genoem, behels swaar aanvalle met spiersametrekkings en ‘n verlies aan bewussyn. Epileptiese aanvalle word veroorsaak deur ‘n skielike opwelling in die brein se elektriese aktiwiteite.

Afhangende van watter deel van die brein geaffekteer is, kan dit manifesteer as ‘n verlies van bewussyn, ongewone gedrag of sensoriese gewaarwordinge, onwillekeurige bewegings of bewusteloosheid.

LEES OOK: Tragedie verander alles in oogwink(Opens in a new browser tab)

Aanvalle word verder verdeel in gedeeltelike (waar slegs ‘n deel van die brein geaffekteer is) en algemene (waar die hele brein geaffekteer is) toevalle.

Aanvalle se nagevolge

“Ná elke aanval het hy dan ook vir verskeie ure verskillende gemoedstoestande gekry, van angs en woede tot hartseer. Hy beseer homself daagliks weens al die kere wat hy val. Wat begin het as vrees en verwarring,

het vinnig verander in ‘n reis vol hospitaalbesoeke, ontelbare toetse, skanderings en onbeantwoorde vrae.

“Ná maande van onsekerheid is ons na dr. James Butler, ‘n neuroloog in Kaapstad verwys, waar gevorderde toetse uiteindelik antwoorde gebring het, maar ook hartseernuus.

“Zian is gediagnoseer met weerstandige epilesie. Dus kan geen medikasie werk nie, sy liggaam het ‘n weerstand daarteen. Aanvalle kan nie beheer word nie, en hy kry gereeld verskillende aanvalle. Dit het begin met een keer per week en is nou soms tot 15 keer per dag. “Al die aanvalle is besig om sy brein stelselmatig te beskadig. Die enigste hoop om sy lewensgehalte te verbeter en verdere skade te voorkom, is dringende breinchirurgie wat in Kaapstad gedoen moet word,” sê Oosthuizen.

LEES OOK: Fikses kan weer nader staan(Opens in a new browser tab)

Sedert Mei 2025 het Zian nie meer ‘n normale kinderlewe nie.

Hy kan nie skool bywoon nie, kan nie vrylik speel of aan alledaagse aktiwiteite deelneem nie. Selfs eenvoudige oomblikke kom met die voortdurende vrees vir ‘n aanval.

Sy lewe is nou gevul met beperkings, mediese afsprake en onsekerheid – iets wat geen kind ooit behoort te verduur nie. Sy ouers sê dit was vir hulle verpletterend om te hoor dat hulle kind breinchirurgie nodig het.

Hulle grootste wens is eenvoudig om Zian weer ‘n normale, gesonde kinderlewe te sien hê, om terug te keer skool toe, om sonder vrees te speel, om te droom en groot te word sonder dat sy lewe deur aanvalle bepaal word.

Verlang na ‘n normale lewe

“Ongelukkig dek ons siekefonds nie al die nodige toetse, skanderings, spesialis-konsultasies of die operasie self nie, aangesien die dokter en die hospitaal in Kaapstad buite hul netwerk val. Sy kondisie word wel hanteer as ‘n ‘PMB’, maar is daar nog groot bybetalings. Ondanks daarvan dat ons alles moontlik doen, is die geldelike las ver bo wat ons gesin alleen kan dra.”

Zian gaan op 5 Maart vir ‘n PET-skandering wat sy familie glo deur die fonds betaal sal word.

Op 9 Maart kry Zian sy eerste operasie en 11 Maart die tweede een. Daar is ook ‘n BackaBuddy (Bring Back Zian’s Childhood) gestig om die gesin met Zian se uitgawes te help.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article