Keagan Smith (in rooi) boks teen Keenan Japtha van Paltinum Boxing in Kimberley. Foto: Verskaf

Twee amateurboksers van die Smithy’s Boxing Club in Welkom het in September oor provinsiale grense heen pres-

teer in drie kampioenskappe, wat gehou is in Meloding, Pretoria en Kimberley.

Keagan Smith (18) en Jacques Gouws (29) het die maand begin met deelname aan die Lejweleputswa-liga-

uitdunne wat op 6 September in Meloding gehou is.

Hoewel Jacques hom ná die tweede ronde weens ‘n besering moes onttrek, het Keagan in sy afdeling oortuigend met 3 − 0 gewen. Hy is vir die Lejweleputswa-span gekies wat weer in Oktober sal meeding om insluiting in die Free State Boxing League-span wat teen ander provinsies sal kragte meet.

Op 13 September het albei boksers weer deelgeneem, aan ‘n toernooi in Pretoria. Jacques het drie rondes dapper geboks, maar sy vorige besering het sy tol geëis en hy het op punte verloor.

Keagan het weer sy staal getoon waar hy teen ‘n silwer-gegradeerde teenstander geveg het. Met vasberadenheid en uitstekende boksvernuf het hy ook dié geveg met 3 − 0 gewen.

Brad Delport (regs) van New Champions Boxing Academy in Kimberley is hier saam met Keagan Smith (regs). Foto: Verskaf

Op 20 September het Keagan deelgeneem aan ‘n Noord-Kaap toernooi in Kimberley. Hier het hy te staan gekom teen een van die top boksers wat ook ‘n silwer-gegradeerde is. In die derde ronde het Keagan met ‘n kombinasie toegeslaan en sy teenstander met ‘n kragtige uitklophou platgetrek. Keagan is in hierdie toernooi aangewys as die beste elite bokser.

Die twee boksers kyk nou vorentoe na hul volgende uitdaging, wat weer in Pretoria sal wees in Oktober, waar hulle nogmaals die geleentheid sal hê om hul name verder te vestig onder Suid-Afrika se amateurboksers.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article