VRYSTAAT – Die groot wenner van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks wat die afgelope seisoen tussen agt skole in die Vrystaat en Noord-Kaap plaasgevind het, is elke kind wat deelgeneem het.
Gys Coetzee, uitvoerende direkteur van die Wesgrow-reeks, sê die peil van die kompetisie in die reeks neem elke jaar toe.
“Dit is ‘n vriendskaplike reeks tussen agt skole wat die afgelope paar jaar toenemend kompeterend geraak het,” sê Coetzee.

Die wenners van vanjaar se Wesgrow-reeks is op Maandag 7 September in Bloemfontein aangekondig.
Die agt skole wat deelneem is: die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, Goudveld-Hoërskool in Welkom, Hoërskool Witteberg en Bethlehem Voortrekker Hoërskool in Bethlehem, Hoërskool Trio in Kroonstad en die Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Jim Fouché en Hoërskool Sentraal in Bloemfontein.

Sentraal was die algehele wenner van vanjaar se reeks. Dit was danksy goeie prestasie deur die skool se spanne in onder meer netbal, maar ook in hokkie.
Met sy openingsrede Maandag het Mark Louwies, hoof van Goudveld, gesê die seisoen was meer as net wedstryde wat gespeel is.
“Daar was 28 interskole-byeenkomste. Elke skool het die geleentheid gekry om op sy eie veld en op elke ander skool se velde te gaan meeding. Uiteindelik het elke besoekende skool oor die seisoen na raming 10 500 km op Suid-Afrika se paaie afgelê.
“Agter daardie kilometers sit busse vol jongmense: rugbyspelers, hokkiespelers, netbalspelers. Van ons jongste ouderdomsgroepe tot ons eerstespanne. By ‘n volledige interskole-byeenkoms kan daar maklik rondom 540 leerders van een skool betrokke wees.”
Louwies het sy dank uitgespreek teenoor ouers wat hul kinders in die vroeë oggende by die skole moes hê.

“Wanneer ‘n ouer op ‘n Saterdagoggend sy of haar kind by ‘n skool aflaai, gebeur daar eintlik iets baie belangriks. Daardie ouer sê sonder woorde: ‘Ek vertrou julle met iets wat vir my kosbaarder as enigiets anders is.’
“Dit is ‘n groot verantwoordelikheid. Daarom wil ek vanaand dankie sê aan elke afrigter, spanbestuurder, onderwyser, noodhulpwerker, bestuurder en personeellid wat daardie verantwoordelikheid ernstig opgeneem het.”
Charles Liversage, hoof van Sentraal, het die borge bedank wat soveel vertroue in die reeks gestel het en uiteindelik so ‘n reeks moontlik gemaak het.

In besonder het hy Wesgrow, die VKB-groep, Skilltracer, die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Novus Media Gemeenskapsnuus (waaronder NoordKaapBulletin, Vista, VrystaatKroon en
BloemNuusExpress) bedank. Die gemeenskapskoerante het die media-dekking vir die reeks behartig.
Vanjaar se wenner van die seunshokkie sowel as die algehele wenner van die hokkie, was Jim Fouché. Voortrekker het die meisieshokkie gewen. Jim Fouché en Sentraal deel die netbalbeker. Diamantveld se goei vertonings deur rugbyspanne het aan hulle die rugbytitel besorg.
LEES OOK: Hoërskool Sentraal skitter as wenner van Wesgrow-reeks




You must be logged in to post a comment.