Dit is baie hartseer om daaraan te dink dat die lewe vir baie mense altyd vaal en leweloos voorkom. Ek weet ons gaan almal maar van tyd tot tyd deur só ’n fase, maar dit is nie veronderstel om permanent te wees nie.
Dit was nooit God se plan vir jou om ’n vaal, kleurlose lewe te lei nie. Ek dink dit is om stil te word, rondom jou te kyk en weer raak te sien wat God vir ons gee,
Dit is die klein dingetjies in die lewe. ’n Sonsopkoms, en ’n sonsondergang is een van daardie klein dingetjies waarvoor ons nie tyd maak nie.
Maar as ons daarvoor tyd maak beleef ons kleur, ’n oomblik, met die wete, God se beloftes bly getrou. Daar is nie ’n dag sonder ‘n opkoms wat perfek is en ‘n sonsondergang met volmaakte kleur nie.
Jesus het gesê dat Hy vir ons ’n oorvloedige lewe beplan.
Ons lees in Johannes 10:10: ’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Nou ja, as Jesus is wie Hy sê Hy is – die Seun van God, die Skepper van die Heelal – dan kan ons saamstem dat Hy kleur geskep het.
Kyk om jou rond. Daar is letterlik miljoene skakerings van kleure in hierdie wêreld. “Oorvloedig” sal dit nooit kan beskryf nie, of hoe? Wat sou die lewe sonder daardie kleure wees? Is jou lewe vol oorvloedige kleur, of is dit ’n lewelose, vaal-vuil lewe?
Miskien is dit tyd om na Jesus toe te kom en Hom te vertrou om ’n ongelooflike transformasie in jou te bewerk. “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
- Dit is God se Woord – vars, vir jou, vandag.Heidi Mc Laren is ’n jeugleraar aan die NG kerk Bedelia.





