Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl se splinternuwe produksie Liewe Heksie Vang Vis sal op die Vrystaat Kunstefees te sien wees.
Die produksie, onder regie van Meyer-Rödenbeck, is in 2023 met ’n Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) Kanna-eerbewys vir beste kinderteater bekroon.
Nou in 2024 is almal se geliefde Liewe Heksie terug, en dié keer span sy haar besem in as ’n visstok, maar dit sukkel maar om ’n vis te laat byt. Sy raak vreeslik opgewonde as sy wel daarin slaag: “Haai oe, dis vir my so lekker as ek ’n vis vang. Dan sing ek sommer ’n liedjie en die vis wil saam sing. Ek weet, want sy bek gaan so oop en toe. Of dalk gaap hy, omdat hy moeg is, dan gooi ek hom terug en vang ’n nuwe ene.”
Maar hoekom raak Koning Rosekrans se forelle dan minder? Is Levinia die skuldige of is die nare Geelheks ook weer in die prentjie? Liewe Heksie het dringend julle hulp nodig.
Verna Vels se immergroen verhale kry lewe met baie gehoordeelname en voortsnellende aksie. Meyer-Rödenbeck is die nimlike Heksie en die uiters talentvolle Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, die Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf.
In 2022 het dieselfde span die KKNK Kanna-eerbewys vir beste kinderteater ontvang, en in 2023 is die span vir ’n Fleur du Cap-eerbewys benoem.
Die tydlose Liewe Heksie is perfekte vermaak vir die hele gesin by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein, in die Kopanong-ouditiorium (Ou Kovsie-kerk) op Dinsdag 2 Julie om 10:00 en Woensdag 3 Julie om 09:30.
Kaartjies is op webtickets.co.za beskikbaar.





