Een van Welkom se oudste en mees geliefde inwoners, Sarah Gouws, is op 30 April op 95-jarige ouderdom by haar twee dogters oorlede.
Sarah het op 21 Februarie haar 95ste verjaarsdag gevier – ‘n mylpaal wat sy as ‘n groot voorreg beskou het. Sy het op ‘n plaas in die Verkeerdevlei-distrik in die Excelsior-omgewing grootgeword as een van agt kinders. Sy was al een wat nog geleef het.
In 1954 het sy met die bekende oud-burgemeester Gus Gouws getrou. Die paartjie het hulle in Welkom gevestig, waar sy vir 69 jaar lank gewoon het.

Gus was in 1982-’83 en 1988-’89 burgemeester van Welkom.
“Ek het dit baie geniet om sy aan sy met Gus te werk,” het Sarah vertel. Gus is in 2009 kort voor sy 80ste verjaarsdag, oorlede. Reëlings vir sy verjaardagpartytjie was reeds getref.
Ná haar twee dogters, Suzette Gouws Louw Holmes en Hanlie Gouws, se geboortes het Sarah voltyds ma en tuisteskepper geword.
Sy kon egter nie stilsit nie. Sarah was ‘n aktiewe bestuurslid van die destydse Oranje Vrouevereniging (OVV), wat haar baie na aan die hart gelê het. Sy was ook ‘n aktiewe lid van die Bedelia Vroue Landbou-unie (VLU).
Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Sarah was ‘n bobaas kleremaker en het in haar jonger dae rokke vir haar dogters gemaak. Sy het ook truie en pakkies gebrei. Sy het bekend gestaan vir haar tuisgebak, veral die brood wat sy met haar eie suurdeegplantjie gebak het. Kerstyd het sy talle vrugtekoeke gebak wat sy as geskenke uitgedeel het. Blommerangskikking en binnenshuiseversiering het ook onder haar stokperdjies getel.
Dié merkwaardige vrou was tot die einde gesond en was tot met haar dood selfversorgend. Sy het weekliks die haarsalon besoek en uitstappies na die kwekery se koffiewinkel geniet. Om tussen plante en blomme te kan beweeg, het sy as ‘n groot voorreg beskou.

Haar resep vir ‘n gelukkige huwelik was getrouheid en liefde. ” ‘n Man en vrou moet met mekaar kommunikeer. As iets pla, praat dit uit. ‘n Egpaar moet ook getrou aan die Here wees.”
lets wat sy ook baie geniet het, was die jaarlikse familiebyeenkomste wat haar kinders gereël het. Suzette sê haar ma het die familie bymekaar gehou.
Sarah word Saterdag om 11:00 vanuit die NG-gemeente Welkom Suid begrawe.






You must be logged in to post a comment.