BLOEMFONTEIN – Studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) is ontstoke nadat ‘n dosent in ‘n klas glo na hulle as “ape” verwys het.
Lacea Loader, woordvoerder van die UV, het gesê die instansie is in kennis gestel van ‘n onbehoorlike opmerking wat ‘n dosent tydens ‘n EBUS1514-lesing ( inleiding tot besigheidsfunksies) op 18 Maart gemaak het.
Die dosent, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het klas gegee toe een van die eerstejaarstudente in die klas na bewering sy hand opgesteek het en haar gevra het om harder te praat omdat die ander studente glo lawaai het.
Die dosent het glo geantwoord: “Probeer jy om vir ‘n groep ape klas te gee.”
Loader sê die UV hanteer die geval met groot erns en dat ‘n ondersoek dadelik begin is.
“Die UV verdra geen vorm van rassistiese wangedrag by sy personeel nie. Die UV sal beslissend optree indien enige gedrag strydig is met sy kernwaardes,” sê sy.



