Die Wesgrow Sentrale Skolesport-reeks het Saterdag 14 Maart begin met opwindende sportdeelname van skole oor die Vrystaat en Noord-Kaap heen wat teen mekaar meegeding het.
Die Hoërskool Goudveld het gasheer gespeel vir ‘n opwindende dag teen die sportlui van die Hoërskool Jim Fouché. Leerders het meegeding in netbal, hokkie en rugby. Die dag is gekenmerk deur goeie sportmanskap, intensiteit en waardevolle wedstrydervaring vir al Goudveld se spanne.Goudveld se netbalspanne het in ‘n reeks van 14 wedstryde teen sterk opposisie te staan gekom. Hoewel die uitslae nie oorwegend in Goudveld se guns was nie, het die spanne deurgaans deursettingsvermoë, spanwerk en karakter getoon.

Die o.14A- en o.14B-spanne het uitstekende vertonings gelewer en hul wedstryde gewen. Die eerste netbalspan het ‘n baie mededingende wedstryd gespeel, maar moes uiteindelik die knie buig. Die aanvallende kombinasie van Carli Taljaard (doel) en Vannesa Wasyliszyn (hulpdoel) het egter met goeie samewerking en akkurate afronding beïndruk. Verskeie spelers van die wedstryd is aangewys, wat erkenning gee aan individuele uitnemendheid.
Die hokkiewedstryde is by die Harmony Goutie Astro aangebied, waar Goudveld se spanne hul staal teen Jim Fouché gewys het. Hoewel die eerste meisies- en seunspanne hul wedstryde verloor het, was dit hoogs kompeterende kragmetings. Die eerste meisiesspan was lank gelykop voordat Jim Fouché in die derde chukka die deurslaggewende doel aangeteken het. Die dag het egter die diepte van Goudveld se hokkieprogram beklemtoon. Die o.14B-meisies het met ‘n indrukwekkende 3–1 oorwinning gespog, met doele deur Taliana Kota, Nicole de Beer en Quinita Putzier. Die o.14A-meisies het gelykop (0 – 0)gespeel.
Die derde span het ook ‘n goeie gelykopuitslag met ‘n doel elk behaal.
Minke Labuschagne is as Speler van die Wedstryd vir die eerste meisiesspan aangewys. Sy het met haar werktempo, insette en leierskap uitgestaan. By die seuns het Eben Sander dieselfde eer ontvang vir sy energie en harde werk op die veld. Altesaam agt rugbywedstryde is gespeel. Dit was ‘n dag van harde, fisieke en kompeterende rugby. Jim Fouché het die meeste wedstryde gewen, maar Goudveld se o.16B-span se welverdiende oorwinning was die hoogtepunt. Goudveld se spanne het deurgaans veggees en trots getoon, met veral die eerstespan wat sterk begin het en goeie druk toegepas het. Die wedstryde was leersaam. eleenthede gebied.
Oor al drie sportkodes heen was dit ‘n dag van leer, groei en trots vir Goudveld Hoërskool. Die jonger spanne se vertonings het gewys dat die toekoms van Goutie-sport belowend lyk.






You must be logged in to post a comment.