FAK-Skryf'it 2026 spog met 'n indrukwekkende paneel bekende kunstenaars wat as mentors en beoordelaars optree.
Met die aanwys van FAK Skryf’it 2025 se wenners by die Voortrekkermonument is van links Barry Müller, Logan Pietersen, Nadine en Machiel Roets.

Inskrywings vir die tweede FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie open op 16 Maart, en pryse ter waarde van R100 000, insluitend R25 000 kontant, is op die spel.

FAK-Skryf’it 2026 spog met ‘n indrukwekkende paneel bekende kunstenaars wat as mentors en beoordelaars optree, groot belangstelling van aspirant-liedjieskrywers, en die bekendstelling van ‘n nuwe afdeling wat die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) in musiek verken.

Volgens Barry Müller, FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is die kompetisie daarop gemik om nuwe Afrikaanse liedjies te ontdek, en om ‘n breër gesprek oor die tegnologiese omwenteling in die musiekwêreld aan die gang te sit.

“Tegnologie ontwikkel teen ‘n ongelooflike tempo, en KI speel toenemend ‘n rol in hoe musiek geskep en vervaardig word. Pleks daarvan om hierdie werklikheid te ignoreer, kies ons om dit verantwoordelik te hanteer,” sê Müller.

“Tegnologie kan klanke skep, maar mense skep liedjies. Die hart van ‘n Afrikaanse liedjie sal altyd in die lirieke lê wat uit menslike ervaring en emosie deur storievertelling gebore word.”

Twee afdelings, een taal

Deelnemers kan in twee afdelings meeding. Die eerste is die tradisionele liedjieskryfafdeling, waar elke element van die liedjie – van die lirieke en melodie tot die produksie – geheel en al deur mense geskep moet word.

Die tweede afdeling fokus op KI-verwerkte produksies, waar tegnologie as hulpmiddel in die verwerking of produksie van ‘n liedjie gebruik mag word.

Een belangrike reël geld egter vir albei afdelings: Die lirieke moet 100% oorspronklik deur ‘n mens geskryf wees.

FAK-Skryf'it 2026 spog met 'n indrukwekkende paneel bekende kunstenaars wat as mentors en beoordelaars optree.
Verlede jaar se Skryf’it-wenner was Logan Pietersen, en Nádine het as ghoeroe hom gehelp om sy wenlied, “Afrikaans my Taal”, te slyp. FOTO’S: Iriza Engelbrecht

Groot name as ghoeroes

‘n Groot trekpleister van Skryf’it 2026 is die indrukwekkende lys bekende Afrikaanse kunstenaars wat as mentors of ghoeroes gaan optree.

Vanjaar se ghoeroes sluit in Danie “Reënwolf” du Toit, Ampie, Andriëtte Norman, William Wolf en John-Henry Opperman van Klopjag. Hierdie kunstenaars gaan die deelnemers wat na die eindrondte deurdring, begelei, insig gee oor die skryfproses en help om dié opkomende talent te ontwikkel.

“Die ghoeroes bring ervaring, maar ook ‘n passie om die volgende geslag liedjieskrywers te help ontwikkel,” sê Müller.

Die beoordelaarspaneel bestaan ook uit bekendes in die Afrikaanse musiekbedryf. Dit sluit in Jakkals Vibes, Blixim Straat, Steve Hofmeyr, Gian Groen, Pieter Smith, Bibi du Preez, Logan Pietersen (2025 se Skryf’it-wenner), Monica Maree, Stefan Jansen, Jannie du Toit en Machiel Roets.

Hierdie paneel verteenwoordig verskillende style en genres van Afrikaanse musiek. Besoek Skryf’it.co.za om meer inligting te kry – dié webwerf sal van Maandag af aktief wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article