Die Goldfields Hospice Association in Welkom doen ‘n dringende beroep op die gemeenskap om hul geldinsamelingsprojekte vir 2026 te ondersteun.
As ‘n nie-winsgewende organisasie is hulle afhanklik van skenkings en gemeenskapsbetrokkenheid om noodsaaklike, deernisvolle sorg aan pasiënte en hul families te kan lewer.
“Dit is vir ons van uiterste belang dat die gemeenskap en sakeondernemings ons ondersteun, sodat ons kan voortgaan om in ons pasiënte se behoeftes te voorsien. Meeste van ons pasiënte is behoeftig en maak staat op ons gratis mediese dienste,” sê Tanja Schutte, kantoorbestuurder van Goldfields Hospice.
Die organisasie se 2026-kalender is gevul met ‘n verskeidenheid geleenthede.
Binnekort word vier dae se waterpret vir kinders op die hospice-terrein aangebied
Binnekort word vier dae se waterpret vir kinders op die hospice-terrein aangebied.
Dit vind van 30 Maart tot 2 April, daagliks van 09:00 tot 14:00 plaas. Teen R150 per kind per dag kan kinders die waterglybane, springkastele en gesigverf geniet. Die dagpakket sluit water, koeldrank asook ‘n worsbroodjie of hamburger met ‘n peuselhappie in.
Ouers kan ook gebruik maak van ‘n spesiale aanbod van R500 per kind vir al vier dae.
Alle aktiwiteite geskied onder toesig van verantwoordelike volwassenes en gekwalifiseerde verpleegkundiges, wat ekstra gemoedsrus aan ouers bied.
Verder word twee gholfdae beplan: een teen die einde van Mei by die Brand Machie in Welkom en nog een by die Parys-gholfbaan.
Die finale datums sal binnekort bekend gemaak word.
‘n Glansryke maskerbal word op Saterdag 1 Augustus aangebied teen R4 000 per tafel.
Die algemene jaarvergadering volg op Woensdag 19 Augustus. Op Saterdag 5 September word ‘n vroueteeparty aangebied.
Die jaarlikse Tree of Memories vind op Saterdag 31 Oktober by Hospice plaas.
Ons is werklik afhanklik van die gemeenskap se volgehoue ondersteuning
“Ons is werklik afhanklik van die gemeenskap se volgehoue ondersteuning om ons dienste volhoubaar te maak vir ons pasiënte en hul families,” sê Dina le Roux, organiseerder van die geldinsamelings en ook raadslid van Goldfields Hospice.
Die organisasie verwelkom kontantbydraes van so min soos R50 tot R100 per maand.
Belangstellendes kan Goldfields Hospice besoek by Rose House, Montaguestraat 58, Bedelia, Welkom, of kontak Tanja Schutte by 057 353 2152/91 vir meer inligting.
Kantoorure is Maandag tot Donderdag van 08:00 tot 16:00 en Vrydag van 08:00 tot 13:00.





