Lynette Brummer
Die veelbesproke hofsaak wat sal handel oor die beweerde aanranding van ‘n 81-jarige slagoffer by ‘n ouetehuis in Welkom, is tot Maart uitgestel

Die hofsaak rakende die beweerde aanranding van ‘n 81-jarige slagoffer by ‘n oue-tehuis in Welkom is tot Maart uitgestel sodat die prokureur wat beskuldigde drie en vier nou ook verteenwoordig, homself met die inhoud van die dossier kan vertroud maak.

Die saak sal op Maandag 2 Maart in die Welkom-streekhof voorkom. Dit verhoordatum behoort dan vasgestel te word. Die verwagting was dat die verhoordatum op 30 Janaurie bekend gemaak sou word, maar die prokureurs het, gebaseer op die verwisseling van beskuldigdes tussen prokureurs, vir uitstel gevra.

Die aanklagte teen Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Nomsa Ngcongwane (56), Prudence Majorobella (35), Mofolo Ntswaki (30) en Puseleletso Mola (33) sluit in poging tot moord, aanranding met die opset om ernstige liggaamlike leed te veroorsaak, en ontvoering van ‘n 81-jarige vrou by ‘n verswakte-sorg-tehuis in Welkom.

Hulle word ook aangekla op die Wet op ouer persone 13 van 2006 vir die beweerde fisieke en geestelike mishandeling van ‘n bejaarde.

Streeklanddros Ludidi het bevestig dat die beskuldigdes op borg vrygelaat is, en dat hulle by die streng borgvoorwaardes moet hou.

In Desember het die streeklandros aan die beskuldigdes bevestig dat die klag ernstig is en in die streekhof ‘n straf van nie minder as 15 jaar gevangenisstraf elk dra.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article