‘n Verwoestende veldbrand wat vermoedelik deur kwaadwillige brandstigting veroorsaak is, het op Saterdag 24 Januarie groot verwoesting in Vidastraat, Riebeeckstad, gesaai.
Die brand het omstreeks 14:30 in die veld agter Vidastraat ontstaan en vinnig versprei na ‘n woonerf, waar die agterplaas van ‘n huis afgebrand het.
Die eienaars van die eiendom, Johan en Patricia van Biljon, was ten tyde van die voorval met vakansie in KwaZulu-Natal.



Volgens die Van Biljons was dit danksy die vinnige optrede van Jan Vermaak, wat op dieselfde perseel woon, dat die brand betyds aangemeld is en geblus kon word voordat dit die woonhuis self bereik het.
Die lapa en kweek-huis aan die agterkant van die eiendom is egter wel in die brand verwoes.
Die vlamme het verder in die rigting van Stone Park en die perdestalle in Riebeeckstad versprei, wat groot kommer onder inwoners veroorsaak het.
Spoedige en gesamentlike optrede deur die Matjhabeng-munisipaliteit se brandweer, met die ondersteuning van Shepard Alarms, die polisie, Mitch Heppel van die GPF en Magiel de Kock, het daartoe gelei dat die brand onder beheer gebring is voordat groter skade aangerig kon word.
Johan en Patricia van Biljon het hul opregte dank uitgespreek teenoor almal wat onmiddellik gehelp het.






You must be logged in to post a comment.