Net omdat jy diabetes moet bestuur, is dit glad nie nodig om droëbek te sit terwyl die ander smul nie.
Kosskrywer Vickie de Beer het saam met dieetkundige Kath Megaw en ‘n mediese dokter prof. David Segal kragte saamgesnoer om ‘n boek saam te stel vir mense wat met tipe 1- of 2-diabetes saamleef.
Segal sê diabetes, anders as enige ander toestand, beïnvloed en word beïnvloed deur elke aspek van die alledaagse lewe – van maaltye, peuselhappies, oefening en slaap, tot die weer, siekte en gemoedstemmings.
Die Suid-Afrikaanse Leefstylgids vir diabetes bied meer as 100 laekoolhidraat-resepte wat 100% suikervry en glutenvry is.


Vickie dra die boek op aan haar seun, Lucca, wat diabetes het. Sy skryf in die boek: “Ek het ‘n belofte aan Lucca gemaak: Ek sal aanhou navorsing doen en seker maak jy leef jou heel beste lewe en as daar ‘n kuur is, sal jy die eerste een wees wat dit hoor. Maar die werklikheid is dat daar geen mediese wonderwerke bestaan nie, tog gee hierdie boek ‘n plan, ‘n leefwyse van hoe om ‘n redelik stresvrye, goeie, genotvolle en energieke en kalm lewe te lei.”
Die boek is ‘n leefstylgids met raad en praktiese wenke vir ouers om kos te maak wat hul kinders kan help om gesonder te leef.
Hier is ‘n lieflike resep vir ‘n Vrydagaand, of enige aand wanneer daar skaaptjoppies gereed staan vir die vleisbraaivuur:
Lamstjops oor die kole
Die resep is genoeg vir 6 mense
Jy benodig:
- 12 lamsribtjops
- sout
- 125 ml tuisgemaakte basiliepesto (resep hierby)
- hand vol varsgekapte pietersielie
Om te bedien:
- suurlemoenwiggies
- growwe griekse slaai
- tzatziki (resep hierby)
- knoffelplatbrood (resep hierby)
Resep: Basiliepesto:
- Twee hande vol vars basilieblare, gewas
- 125 ml amandels, gevlok
- 2 knoffelhuisies, gekap
- 125 ml olyfolie
- 60 g parmesaankaas, fyngerasper
- sout
Maak nou so: Meng die basilie, amandels en knoffel in ‘n voedselverwerker fyn. Verwerk tot byna glad. Voeg die olie stadig by tot al die olie gemeng is. Skep die pesto in ‘n bak en voeg die kaas en sout na smaak by en roer tot goed romerig.
Resep: Tzatziki
- sout
- klein komkommer, grofgerasper
- 250 ml ongegeurde jogurt
- ‘n klein handvol mentblare, gekap
- 1 knoffelhuisie, fyngekap
- gerasperde skil van 1 suurlemoen
- 5ml rou heuning
Strooi sout oor die komkommer en laat dit vir 15 minute eenkant staan. Druk die vloeistof met jou hande uit die komkommer, meng die komkommer met die res van die bestanddele.
Resep: knoffelplatbrood
Lewer een groot brood om te deel
Vir die deeg benodig jy:
- 375 ml gerasperde mozarellakaas
- 45 ml roomkaas
- 1 eier, lig geklits
- 180ml fyn amandels
- 2,5 ml sout
Om oor te sprinkel
- 60 ml olyfolie
- 4 knoffelhuisies, fyngekap
- ‘n paar roosmaryntakkies
Maak nou so:
Voorverhit die oond tot 200°C.
Smeer ‘n groot bakplaat met botter.
Plaas die mozzarellakaas en roomkaas in ‘n mikrogolfvaste bak. Mikrogolf op hoog vir 2 minute totdat die kaas heeltemal gesmelt is.
Voeg die eier, fyn amandels en sout by. Meng tot goed gemeng. Die deeg moet baie sag wees. Indien dit nie sag genoeg is nie, plaas dit vir nog 30 sekondes op hoog in die mikrogolf.
Plaas die deeg op die gesmeerde bakplaat en rek dit totdat dit ‘n dun pizzabasis vorm. Bak vir 6 tot 7 minute of tot goudkleurig.
Meng die olie, knoffel en roosmaryn in ‘n klein bakkie. Haal die brood uit die oond en sprinkel die knoffelolie oor. Plaas terug in die oonde en bak tot goudkleurig. Sny en bedien warm.
Nou vir die tjoppies:
Plaas die tjops in ‘n diep bak, geur met sout na smaak en smeer die pesto oor. Vryf die pesto in die tjops in.
Marineer vir 30 minute terwyl jy vir die kole wag.
Drieneer die oormatige olie van die tjops en rooster die tjops vir 10 minute aan ‘n kant oor die kole.
Garneer met pietersielie en ‘n skeut suurlemoensap.
Bedien met ‘n Griekse slaai, tzaziki en knoffelplatbrood. Geniet!





You must be logged in to post a comment.