Strand-inbraak
‘n Strand-gesin se bakkie se wiele is gesteel en hul twee geliefde honde is vermoedelik vergiftig en dood tydens ‘n inbraak in die vroeë oggendure van Saterdag 18 April in De Ruyterstraat.

WAARSKUWING: Foto’s in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

“Wees paraat,” waarsku ‘n Strand-inwoner ander nadat haar gesin slagoffers van ‘n inbraak geword het waarin hul twee geliefde honde na bewering vergiftig is.

Die 38-jarige ma van twee dogters vertel dat die voorval in die vroeë oggendure van Saterdag 18 April plaasgevind het.

Sy en haar man het onraad vermoed toe hulle omstreeks 06:00 wakker geword en besef het dat die bakkie se wiele gesteel is. Hulle het toe ‘n soektog na hul honde begin. Beide vierpotige familielede is dood aangetref – die driejarige Rottweiler langs die bakkie en die 12-jarige Duitse herdershond langs die muur naby die hek.

Strand-inbraak

Sy vertel dat haar man beeldmateriaal van hul sekuriteit­skamera ondersoek en bevestig het dat hulle tussen 02:00 en 04:00 deur inbrekers geteiken is.

Volgens haar het twee verdagtes oor die heining van hul woning in De Ruyterstraat gespring nadat hul honde vergiftigde vleis gegee is. Dit blyk dat hulle eers die bakkie se wiele gesteel het. Hulle het voortgegaan om die motorhuisdeur oop te maak en ander items uit te dra wat hulle oor die muur aan medeverdagtes gegee het.

“Hulle het vir ‘n ruk gestop, gesels, om die huis beweeg en weer voortgegaan om die batterye van ons inverters en ons kinders se fietse te steel. Om 03:57 het hulle weer oor die muur geklim en gevlug.”

Strand-inbraak
Oorblyfsels van die vergiftigde gemaalde vleis wat na bewering aan die honde gegee is.

Volgens die inwoner het hulle onmiddellik die plaaslike buurtwagte ingelig en owerhede ontbied. Sy het haar dankbaarheid betuig aan veral buurtwaglede wat spoedig op die voorval reageer het.

Strand Patrol het op sosialemediaplatforms met besonderhede van die voorval ‘n beroep op die gemeenskap gedoen vir inligting wat moontlik kan help om die misdadigers vas te trek.

Kolonel Jacqui Johnson, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Strand-polisie ondersoek ‘n saak van huisbraak, diefstal en ‘n klagte onder die dierebeskermingswet. “Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie. Die ondersoek duur voort,” het sy gesê.

Enigiemand met inligting kan die polisiekantoor by 021 854 9100 skakel.

Volgens die inwoner ervaar hulle baie gemengde gevoelens. “Eerstens is ons hartseer oor ons diere. Hulle was só geliefd. Ons is kwaad, want hoe kan mense só iets aan diere doen? Ons ervaar al die gevoelens wat mens kan voel.

“Ons wil slegs die boodskap aan ander tuisbring dat hulle jou dophou. Wees versigtig en waaksaam. Ek sal dit niemand toewens nie. Aardse goed kan mens vervang, maar nie jou diere nie.”

Volgens die inwoner is haar gesin erg deur die voorval en hartverskeurende verlies van haar troeteldiere getraumatiseer.

“Ons voel onveilig in ons eie huis, maar ons glo daar is ‘n rede waarom ons nie wakker geword het nie. Dit kon veel erger gewees het. Die Here het ons beskerm en ons is dankbaar dat ons ongedeerd is danksy Sy genade. Die misdadigers sal ook eendag voor die Here verantwoording moet doen.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article