DIE Nelson Mandelabaai-metro het twee weke gelede aangekondig dat ’n R15 miljoen projek afgeskop het om met die hulp van sewe loodgietermaatskappye die duisende waterlekplekke, binne 12 uur nadat dit aangemeld is, in die metro te herstel.
In Makappastraat, Uitenhage, voor die ingang van Jubilee Park Primêr, loop water al byna ’n jaar uit ’n waterlek, wat herhaalde kere deur die skool aangemeld is.
“Die pad lê nou al amper ’n jaar so. Die inwoners van Blikkiesdorp sowel as ons hier by die skool, het al talle kere die munisipaliteit gebel oor die waterlek en slaggate,” sê Dudley Maarman, adjunkhoof by Jubilee Park Primêr.
Volgens Maarman het ’n waterpyp boontoe op in die pad gebars en ge- volglik stroom die water pad af by die skool verby. Die langdurige waterlek het tot gevolg dat die teeroppervlak nou vol slaggate is.
“Een van ons leerders was vroeg in die jaar amper deur ’n motor wat vir die gate wou uitswaai, omgery.
“Baie motors wat deur die slaggate gery het, het skade opgedoen.”
Maarman sê hy het vroeg in Maart die wyksraadslid Tyron Adams van die waterlek en slaggate in die pad ingelig.
“Hy het belowe dat hy die skool sou besoek om die omvang van die skade aan die pad te assesseer, maar hy het nooit opgedaag nie.
“Dis onaanvaarbaar dat die pad basies vir ’n jaar in so haglike toestand lê. Boonop hou dit ’n gesondheidsrisiko in vir die leerders.
“Die gemeenskap en die skool pleit by die munisipaliteit dat daar dringend aandag aan die saak geskenk moet word.
Indien die probleem nie spoedig opgelos word nie, laat die munisipaliteit die skool geen keuse om die saak na ’n hoër vlak te neem nie,” sê Maarman.
Die Nelson Mandelabaai-metro het twee weke gelede aangekondig dat die hulp van sewe loodgietermaatskappye ingeroep is om die ongeveer 7 000 waterlekplekke in die metro te herstel.
Volgens Andile Lungisa, ANC-burgemeesterskomiteelid vir infra-struktuur en ingenieurswese in die metro, is dié R15 miljoen stap deel van die metro se plan om binne 12 uur aandag te gee aan lekkasies wat aangemeld word.
In Die Burger is berig dat die DA se Jason Grobbelaar, raadslid vir wyk 40, sê die metro maak nie statistieke bekend oor hoeveel water per wyk weens lekkasies verlore gaan nie, maar die jongste syfers dui daarop dat ongeveer 35% van drinkwater weens lekkasies en water wat nie gemeet word nie, verlore gaan.
Volgens Lungisa het die nuwe loodgietermaatskappye, met sowat 30 werknemers elk, ’n kontrak van drie jaar met die munisipaliteit.
Hy glo met die versterkte span is die metro se teiken haalbaar om binne 12 uur nadat ’n waterlekkasie aangemeld is, aandag daaraan te gee.
Hy sê dit sal streng opgevolg word as die teiken nie behaal word nie.
“Daar sal altyd waterlekkasies wees, maar ons kan nie water deur 7 000 lekplekke vermors nie.
“Daarom is dit belangrik om so gou as moontlik op te tree wanneer ’n pyp bars of ’n waterlekplek aangemeld word,” sê Lungisa.


