DIE kroon op die Hoërskool Despatch se 70ste bestaansjaar-vieringe was ’n damestee met voormalige Mej. Wêreld, Rolene Strauss, as die gasspreker.
“Ons wou die skool se boeiende reis die afgelope 70 jaar met mening vier. Glansryk en stylvol. Daarom het ons gaste koninklik onthaal en die beste van die bestes gekry om met haar teen- woordigheid die kroon te span oor hierdie damestee,” sê Benita Grobler, oudskolier en hooforganiseerder van die damestee.
Rolene Strauss is in 2014 gekroon as Mej. Suid-Afrika sowel as Mej. Wêreld. Dié ma, wat die besigheidswêreld bo dié van geneesheer gekies het nadat sy gegradueer het in mediese studies, het haar lewensreis met die gaste gedeel.
Haar boodskap was dat “ware skoonheid ont-hul word deur die lig wat in jou skyn.”
Volgens Benita het die nuus oor die geliefde persoonlikheid se bywoning van die damestee soos ’n veldbrand versprei en het die kaartjies vir die 500 gaste soos soetkoek verkoop.
“Elke gas het ’n spieëltjie as geskenk van die skool ontvang. Die boodskap hieraan verbonde, is dat elke vrou wat in dié spieëltjie kyk, die mooi in haarself moet raaksien en weet dat sy goed genoeg is,” sê Benita.
Klinicare-apteekgroep was die hoofborg van die damestee. Benita het ook die ander borge en rolspelers bedank vir hulle ondersteuning.
– HEILIE COMBRINCK




