TOE die kerke se deure tydens die streng inperkingsperiodes weens die COVID-19 pandemie toe was, het pastoor Elize Hall van die AGS Lofoord op Kariega gesorg dat ’n ander deur oopgaan na dié wat dit nodig het.

Pastoor Elize Hall, die eerste vrouepastoor van AGS Lofoord op Kariega. Foto:HEILIE COMBRINCK

Sy het naamlik ’n WhatsApp-groep begin om in dié onseker tyd daagliks boodskappe van hoop uit te stuur. Vir die ontvangers was dit só bemoedigend dat die woord vinnig versprei en al hoe meer mense gevra het om aan te sluit. Nou bars die ledetal uit sy nate.

“Dit het begin met stemboodskappe vir my kinders, en toe voel ek die behoefte om dit ook vir vyf mense op my kontaklys te stuur,” vertel Elize.

Die vyf ontvangers het verbaas geant-woord en gevra hoe sy geweet het dat dit wat sy gestuur het, juis hul behoefte vir die dag was.

“Toe weet ek as die kerk se deure toe is, is hierdie die deur na bediening,” sê Elize.

In sekerlik dié mees uitdagende tyd om ’n gemeente te bedien en te bou, is Elize as die eerste vroue-pastoor by AGS Lofoord aangestel.

Op 10 Februarie 2020 het sy haar Pastoor Elize WhatsApp-groep met 20 mense begin. Haar kontaklys het só gegroei dat sy nou drie groepe met ‘n totaal van 343 mense bereik en sy stuur haar daaglikse boodskappe ook uit na vyf ander groepe.

“Om in isolasie te leef, is baie sleg. Mense voel vasgevang en hunker na bemoediging. Ons het ‘n bang nasie geword, mense leef in vrees vir die virus en is selfs bang vir me- kaar omdat jy nie weet wie het die virus nie.”

Elize het op die ouderdom van 51 met haar deeltydse teologiese studies by die AGS se teologiese kollege begin. Op daardie stadium het sy op Dunbrody naby Kirkwood by die Heartfelt Home, ‘n tehuis vir mense met Alzheimer-siekte, gewerk as huidhouster en fasiliteerder. Nadat sy haar studies voltooi het, is sy vir voltydse bediening by Lofoord-gemeente aangestel.

Dié vrouepastoor was ook voorheen ‘n bobaasbakker op Vredendal. Dit is juis dié vaardigheid wat sy voortgesit het terwyl sy in die jare voor Heartfelt Home haar bejaarde ouers op Kirkwood versorg het.

“Die trek Kirkwood toe was ‘n groot ge-loofstap. Maar, as die Here sê move, dan move ek. Ek het nie Kirkwood toe gekom om te bak nie, maar om vir die Here te werk want ek het geweet Hy het groter planne vir my lewe.”

Elize sê haar lewenspad het ’n Oos-Kaapse draai kom maak oor drie redes.

“Eerstens om te leer wat onvoorwaardelike liefde is. Tweedens om die Here se hande en voete op grondvlak te wees en derdens om my te verander sodat ek reg kan wees vir Sy voltydse bediening.”

‘n Bonus van Elize se WhatsApp-groep en Lofoord is dat dit ook haar man, Percy Hall, oor haar lewenspad gebring het.

“Om weer te trou, was nie deel van my plan nie, maar die Here het dit só bestem. En hy voldoen aan al my vereistes: ’n sagte hart; ’n ruggraat van staal om my te be-skerm; hy verstaan my passie vir die Here; en hy is nie bang om ’n pastoor se man te wees nie.”

Pastoor Elize Hall is op 1 Augustus 2020 amptelik aangestel by die AGS Lofoord-gemeente en het pastoor Corrie Muller, wat afgetree het, opgevolg.

Sy is weeksdae van 09:00 tot 14:00 by die kerkkantoor en Sondae is die diens om 09:00. “My deur is oop. As iemand bemoediging of raad nodig het kan hulle met my kom praat.”

  • Mense wat graag by Pastoor Elize se WhatsApp-groep wil aansluit kan haar kontak by 076 119 0229.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article