Die aantal geskiedenis wat al in hierdie man se motorhuis uitgestal is, gaan die verstand te bowe.
Trevor Smith, ’n bekende inwoner van Despatch, het in 1986 vir die eerste keer opspraak in die plaaslike koerante gemaak met sy versamelings.
Nommerplate, skouer flitse, oliekanne, glas melkbottels, helms en pette, kentekens, skaalmodel karretjies en vele meer items het al deur die jare sy oog gevang en in sy motorhuis beland.
Smith, ’n voormalige Suid-Afrikaanse polisielid, het in die tagtigerjare grensdiens in die Noorde gedoen en eendag in Johannesburg rondgeloop terwyl hy wag vir sy trein huistoe, toe hy by ’n ou winkel sy stokperdjie ontdek het.
“Daar was ’n bord vol van hierdie badges en dit het mooi gelyk en mooi vertoon. En daar het dit begin,” het Smith vertel.
Hy het later vir ’n tyd lank opgehou versamel tot sy aftrede in 2006.
“Ek het vir myself gesê ek moet weer begin, ek kan nie net sit en niks doen nie.”
Die skatte in sy motorhuis kom en gaan deur die jare soos hy en ander versamelaars onder mekaar uitruil en koop en verkoop.
Sy fokus is nou op sy versameling van kentekens van die eenhede van die Suid-Afrikaanse weermag, lugmag, polisie, spoorwegpolisie, ensovoorts, asook dié van Suidwes-Afrika. Volgens Smith bestaan meeste van die eenhede waarvoor hy kentekens het, nie meer nie.
Hy het ’n boek in 2010 opgespoor wat ’n lys en prentjies het van al die kentekens wat hy wil versamel. Die boek word nou en dan opdateer en Smith merk dié wat hy reeds het in groen.
Van die sowat 1 500 kentekens in die boek het hy al sowat 1 200 opgespoor.
Wat gaan hy doen wanneer hy almal versamel het? Hy weet nog nie, maar beplan dalk om ’n uitstalling te hou en mense te nooi om te kom kyk.
“As daar miskien iemand is wat die kentekens het wat belangstel om te verkoop of te ruil, sal ek dit waar-deer as hulle my sou kontak,” vertel Smith.
- As jy dalk kentekens het wat van belang vir Trevor Smith is, kontak hom gerus by 082 653 3023.





