MORNÉ Kilian is die eerste president van die Despatch Krieketklub wat vir die OP se veteraanspan (bo 50 jaar) gekies is.

Hy is dus nie ’n president wat net bevele uitdeel nie. Hy lei ook van vooraf.

“Ja, dis ’n geweldige groot eer.

“As veelsydige speler het ek die OP reeds vier keer verteenwoordig.

“Dit was teen Boland, WP, Oostelikes en die Titans,” sê hy.

Kilian sê hy is soms ook vir ander spanne beskikbaar en dat Despatch in die winterseisoen aan ’n korporatiewe liga deelneem op die T20-formaat.

Hy sê ’n ander hoogtepunt is dat Despatch-krieket vanjaar sy 75ste bestaansjaar gevier het.

Dis ’n besonderse prestasie as in ag geneem word dat die sterk Uitenhage-klub verlede jaar sy deure finaal gesluit het.

“Dit gaan goed met die klub. Ons het tans 64 lede en spelers.

“Despatch speel in die OP se Premierliga en het tans vier geregistreerde spanne.

“In die Premierliga het ons verlede seisoen sewende uit 12 spanne geëindig,” sê Kilian.

Rudolph Smit, Cariston Haarhoff, Daniel Renison, Steyn Koekemoer en Roy Butcher tel onder die uitblinkers.

Despatch begin die nuwe seisoen op 11 Januarie met ’n tuiswedstryd teen die PE-krieketklub.

Despatch sal uiteraard die nuwe seisoen goed wil begin en daarom word daar reeds vir dié kragmeting voorberei.

Kilian sê Despatch se fondamente is stewig gelê omdat dit ’n familieklub is.

“Vrou, kinders, en ouma en oupa is altyd welkom hier. Ons deure staan oop vir almal.”

’n Ander faktor is die sterk bestuurspan wat Kilian ondersteun.

Hy sê finansies is deesdae maar altyd ’n kopseer, maar met Estelle de Beer (sekretaresse), Anton Black (tesourier), Enrico Nell (skakelbeampte), Paul Terblanche (kaptein), Daniel Renison (speler en baanopsigter), Trevor Derbyshire (keurder), en Cariston Haarhoff en Marcello Soloman (spelers se verteenwoordigers) verloop sake goed.

Despatch se algemene jaarvergadering word einde Maart volgende jaar gehou en Kilian sê hy glo dat al sy bestuurslede weer verkiesbaar sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article