Despatch inwoners Ian Venter, Maro Swanepoel en van Zonica van Greunen by vullis in Retief.


AS elke Despatch-inwoner drie dinge doen, sal die dorp een van die skoonstes in die land wees.

Dié drie dinge is: sit jou swartsakke die oggend van jou woonbuurt se vullisverwydering uit; tel die papiere, bottels en plastiek voor jou eiendom of in jou straat op; en moet nie ’n morsjors wees wat dié goed uit jou kar gooi of terwyl jy in die straat loop nie.

’n Paar Despatchers het in die gewoonte gekom om moue op te rol, handskoene aan te trek en in te spring om skoon te maak in hulle omgewings waar hul bly.

Een van hulle is Maro Swanepoel wat sê, “#I’mStaying. Ek gaan nêrens heen nie, vir my is daar nie sprake van landuit nie. Op Despatch sal ek bly.

“Dit is my wens dat elkeen van ons, waar ons bly, ’n bietjie meer moeite doen om ons omgewing skoon te hou. Saam kan ons ’n groot verskil maak en ons dorp weer skoon kry.”

Sy woon in Retief-woonbuurt en dit is waar sy en nog ’n paar helpende hande ’n verskil maak.

“Op ’n Saterdag tel ek gou-gou drie swartsakke vol gemors op. Dit is veral koeldrank- en drankbottels, chips-pakkies en plastiek in alle vorme, van babadoeke tot wat ook al,” sê Maro.

Nog ’n inwoner van Retief wat passievol is om die woonbuurt skoon te kry, is Ian Venter. Vir hom gaan dit oor respek en in- tegriteit teenoor die natuur.

“Ons as mense is verantwoordelik om om te gee vir die natuur en die omgewing waar jy bly. As jy selfrespek het, sal jy met respek teenoor ander sowel as die natuur optree,” sê Ian.

“Duidelik is daar baie wat nie hierdie tipe respek het nie, want dit is verskriklik hoe mense mors.”

Hy het al ’n paar jaar gelede besluit om sy kant te bring en ’n verskil te maak waar hy bly.

“As elke mens net ’n bietjie meer omgee en sy of haar omgewing help skoonhou, sal dit ’n groot verskil in die dorp maak,” sê Ian.

Hy en Maro is dit eens dat as ’n paar inwoners in ’n straat saamstaan en om die beurt help, sal daar oor die langtermyn ’n transformasie van die dorp wees.

Besighede moet ook hulle kant bring, vullis hoop veral op waar daar motorwasplekke, kafees en winkels is.

“Gemors bly nie net daar waar jy dit gegooi het nie. Die wind waai dit oral heen. En as dit reën spoel daardie gemors in stormwaterpype in en eindig uiteindelik in die rivier of selfs in die see,” sê Maro.

“Mense moet ophou kla en vir ander te wag om die werk te doen. Begin self om ’n verskil te maak waar jy bly,” sê sy.

Inwoners van Retief word versoek om hulle swartsakke op Donderdae, wanneer munisipale vullisverwydering gedoen word uit te sit, nie op enige ander dae nie.

Tuinvullis moet fyn verwerk word indien dit in swartsakke gegooi word.

Die publiek word ook versoek om inwoners wat oortree, deur takke of ander rommel onwettig te stort, af te neem of te rapporteer by die plaaslike raadslid. Indien daar voldoende bewyse is kan so ’n oortreder beboet word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article