Laerskoolonderwysers gaan Saterdag hul wit chemie-jassies aantrek om by die praktiese aanbieding deur Dr. Rehana Malgas-Enus op Kirkwood baat te vind.

Malgas-Enus, ’n senior lektor by die departement chemie en polimeerwetenskap van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Natuurwetenskappe, lei dié werkwinkel vir die leerkragte. Die chemie-projek word deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) aangebied. Dit is in 2017 begin met die doel om wetenskap as vak te ontwikkel en te bevorder met laboratoriumopleiding en -besoeke vir onderwysers en leerders.

Die rondreisende werkwinkels word aan spesifiek laerskoolleerkragte in samewerking met SUNCOI (die Universiteit Stellenbosch se Chemie-uitreikingsinisiatief) aangebied. ’n Spesiaal saamgestelde handleiding vir praktiese eksperimente met huishoudelike middels, asook ’n volledige wetenskapkissie, word by die werkwinkels uitgedeel.

Weens ’n gebrek aan laboratoriumgeriewe by van die skole in die SBA se fokusareas, kry die hoërskoolleerders die geleentheid om ’n dag-lange besoek in ’n universiteit se chemie laboratorium deur te bring.

Hierdie keer gaan graad 12 leerders van Kirkwood en omgewing, asook twee vakonderwysers, die geleentheid geniet om vandag die Nelson Mandela Universiteit se laboratorium te besoek.

Die ervaring is van onskatbare waarde vir die leerders sowel as onderwysers wat ook ’n geleentheid kry om hulself te ontwikkel en hul vaardighede op te skerp.

– UITGEREIK: SBA

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article