sa stoei kampioene
Uitenhage se presteerders.

Despatch en Uitenhage se stoeiklubs is elk twee Suid-Afrikaanse kampioene ryker.

Dit is ‘n merkwaardige prestasie om in uiters strawwe kompetisie landwyd vier goue medaljes terug te bring huis toe.

Despatch se skitterende vertoning word onderstreep deurdat ses van sy lede vir die eerste keer SA kampioenskappe toe is en vier van hulle medaljewenners was.

By die Laerskool Sonop en die Mzamomhle Special School brand die vreugdevure hoog nadat klein Tiffany van Niekerk en Lihle Thandani albei in hul eerste SA kampioenskappe as wenners gekroon is.

Dié nuwelinge het gewys dat daar vorentoe nog baie van hulle gehoor gaan word. Tiffany en Lihle sal hulle prestasie uiteraard volgende jaar wil herhaal en kan die volgende paar maande groot vordering toon.

Despatch se ander medaljewenners was Malan Strydom (silwer en vierde plek), Akhazimla Peta (twee brons), Nicoleen Verwey (brons) en Errol Te Brugge (brons). Ongelukkig moes Ben Hooper hom weens ‘n besering onttrek.

sa stoei kampioene
Die Hoërskool Despatch het Nicoleen Verwey en Elrick Clack vir hul vertonings by die SA’s vereer. FOTO: VERSKAF Credit: Verskaf

Uitenhage het ook sy stempel afgedruk deurdat Rushni Jackson (Laerskool Uitenhage) en Ronell Booysen (Sunshine Spesiale Skool) as SA kampioene gekroon is.

Dit was ook hulle eerste deelname aan die nasionale kampioenskappe wat uiteraard ‘n merkwaardige prestasie is. Ander medaljewenners was LeeCollin Groenewald, Emilea Olivier en Aiden Gouws.

sa stoei kampioen
Uitenhage se presteerders is (van links) LeeCollin Groenewald, Rushni Jackson, Emilea Olivier en Ronell Booysen. Agter is Joey du Plessis (president) en Fazel van Wyk (sekretaris). FOTO: VERSKAF

Die klubpresident, Joey du Plessis, sê die grondslag is nou gelê vir beter vertonings volgende jaar. “Hou ons maar dop. Hier kom groot dinge in 2026,” sê hy. Du Plessis sê voornemende stoeiers is welkom om by die klub aan te sluit.

Oefening vind plaas op Dinsdae en Donderdagaande vanaf 18:00 tot 20:00. Belangstellendes kan hom bel op 072 985 0121.

Die streek se prestasies is ook ‘n pluimpie vir die plaaslike afrigters wat baie ure insit om die talent te ontwikkel. Hulle kry nie altyd die krediet wat hulle verdien nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article