’n ONGELUK op die N2 het die afgelope naweek die lewe van vier jong mense geëis, onder wie ’n onderwyser en ’n 14-jarige seun. Die polisie in Kabegapark is Sondag net ná middernag na die ongelukstoneel ontbied.
Twee motors, ’n Ford Fiesta en Volkswagen Polo, was in die botsing reg van voor op die N2 tussen Seaview en die Baywest-afdraai betrokke, sê kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder.
Shano Zeelie (28), die bestuurder van die Ford Fiesta, asook die bestuurder van die Volkswagen Polo, Raeeza Ahmed (19), en twee passasiers in haar motor, Noor Fredericks (23) en Raeez Thompson (14), is op die toneel dood.
’n Derde passasier in die Polo is na ’n hospitaal geneem. Volgens Van Rensburg ondersoek die polisie die omstandighede van die ongeluk asook ’n saak van strafbare manslag.
Zeelie, ’n onderwyser by die Hoërskool Despatch, was na verneem word op pad terug na haar woonstel nadat sy vroeër by vriende gekuier het.
Colin Bartle, skoolhoof van die Hoërskool Despatch het gesê die heengaan van Shano Zeelie is vir die skool ’n groot skok en gaan gepaard met diepe hartseer.
“Om so ’n sprankelende kollega en onderwyser te verloor is ’n ervaring wat moeilik verwerk word.
“Ons het haar leer ken as iemand wat voluit gelewe het en ten volle betrokke was by die skool. Die leemte wat sy agterlaat sal nie maklik gevul kan word nie. Ons gaan haar beslis baie mis.
“Ons innige simpatie aan haar familie en vriende. Mag julle in hierdie moeilike tyd God se liefde, genade, nabyheid en vertroosting ervaar.
“Dankie ook aan almal wat boodskappe van bemoediging en vertroosting aan die skool gestuur het. Ons waardeer opreg julle meelewing in ons uur van hartseer,” sê Bartle.
Volgens ’n inskrywing op die skool se Facebook-blad, kon Zeelie ook pragtig sing en haar gunstelingliedjie was “Mej. Sonneblom” van Die Heuwels Fantasties.
“Ons sal haar onthou as die Hoërskool Despatch se Mej. Sonneblom,” lui die inskrywing.




