Waar in Suid-Afrika kry jy ’n dorp met unieke funksionele kunswerke by elk van die dorp se drie ingange – en as die een stukkend gery word, word daar vinnig herstel-plan gemaak?
Net op Despatch.
Maar eers terug na die drie funksionerende kunswerke.
As jy wil weet hoe die wind waai, gaan kyk by die westelike ingang van Despatch na die rigtingwyser.
As jy wil weet hoe laat dit is, gaan kyk op die sonhorlosie by die noordelike ingang.
As jy ’n moeë reisiger is wat bietjie water wil drink, moet jy nog ’n bietjie wag want die waterwiel by die oostelike ingang is weg.
Frans Swanepoel, sakeman, inwoner, raadslid en ’n man wat die ekstra myl loop om die dorp se infrastrukture reg te hou, glimlag wanneer hy die waterwiel se storie vertel.
“Vir meer as 25 jaar het die waterwiel daar ongesteurd gestaan. En nee, die waterwiel het nie weggerol nie, dit was vroeër vanjaar twee keer in die pad van ouens wat die draai te wyd en te vinnig gevat het.”
Maar voor hy by die waterwiel se storie kom, verduidelik Frans eers die agtergrond waarteen Despatch se drie funksionerende kunswerke geskep is.
“Die destydse Verfraai Despatch-komitee onder leiding van AP Rossouw en sy vrou, het dekades gelede besluit om estetiese en funksionele strukture by die dorp se ingange op te rig.”
Dié strukture moes los van geskiedenis en politiek en altyd van toekomstige waarde bly want tyd, rigting, hoe die wind waai en water is dinge wat altyd belangrik sal wees. Volgens Frans is nie een van dié drie strukture tot vandag toe gevandaliseer nie.
“Die strukture is oor die jare deur die munisipaliteit se elektriese department onder leiding van Louis Nortier en sy manne in stand gehou. Van die strukture was eers van hout, maar weens verwering is dit stelselmatig met gegalvaniseerde staal vervang. Daar is nou nie meer hout nie, maar touch wood, is nog nie een van die drie strukture tot nou toe gevandaliseer nie.”
Ongeluk op ongeluk
Maar toe tref die ongeluk die waterwiel in die ware sin van die woord. Twee keer, om presies te wees.
Met die eerste laatnagongeluk in Januarie is die dammetjie en staal-plaat bo-oor die water beskadig met minimale skade aan die waterwiel.
“Die dammetjie was pas herstel toe kom daar in Mei weer ’n ou van die Baai se kant af en ry die nuwe dammetjie heeltemal flenters. Gelukkig was die gerestoureerde waterwiel nog nie terug op sy plek nie.
“Na ’n gesprek met die skuldige party is ooreengekom dat hy skadevergoeding sal betaal. Bnnekort sal die dammetjie vir die tweede keer herstel word. Dié keer sal ons eers sementveiligheidspilare op strategiese punte insink om die waterwiel teen nog moontlike té wye en vinnige motors om die draai te beskerm.
“Hou die spasie dop. Die waterwiel is een van die dae weer terug op sy plek in ’n nog mooier toestand as tevore,” belowe Frans.



