Max Kulati, die gewilde rolstoel-liggaamsbouer van Kariega, is gevra om voortaan alle gestremde atlete te motiveer om aan sport deel te neem.
“Ek het twee weke gelede ’n oproep van arbeidsterapie gekry en gevra of ek hiermee sal kan help. En net verlede week het my fisioterapeut, Leigh Herwels, my met dieselfde vraag gebel. Natuurlik sal ek ander probeer motiveer.
“Dis vir my ’n groot eer dat ek gevra word om ander atlete te help en my kennis met hulle te deel. Dis iets waarna ek beslis uitsien,” sê hy.
Kulati (36) word ál meer gewild in sy gemeenskap. Hy het onlangs ook ’n motiveringspraatjie vir gr. 12-leerlinge by die Hoërskool Strelitzia gelewer en doen al meer gereeld toesprake vir veral matrikulante, sosiale geleenthede en by kerke.
Kulati, wat met ’n handvol Suid-Afrikaanse en internasionale titels spog, het egter ook ’n ander voorneme vir die jaar. Hy wil ook sy eie gimnasium by sy huis in die informele nedersettling, Moeggesukkel, begin.
“Ek sal soveel as moontlik jong mense aanmoedig om met gewigte te begin oefen. Ek wil my huis ’n huis van kampioene maak. Hulle kan selfs met gereelde hardloopwerk begin totdat hulle by ’n professionele gymnasium in die dorp kan uitkom,” sê hy.
Sy groot doelwit as wêreldliggaamsboukampioen is om aan die Mnr. Olympia-kompetisie deel te neem. Dis die grootste en mees invloedryke kompetisie in die wêreld.
“Die Olympia sal altyd my droom bly totdat ek dit verwesenlik,” sê hy.
Kulati het ook die eerste keer openhartig gesels oor hoe hy in ’n rolstoel beland het.
“Niemand ken die agtergrond nie, maar dis dalk tyd dat ek my storie vertel.
“Ek het in 2014 by ’n slaghuis in die Baai gewerk. Dit was ’n Saterdag en ek het kort voor sluitingstyd gehardloop en op ’n nat vloer gegly. Dit was egter niks ernstig nie en ek het geen ongemak gevoel nie. Twee Donderdae later ek ek ’n snaakse gevoel in my bene gekry, maar het dit nie ernstig opgeneem nie omdat ek geglo het ek was net moeg.
“Toe ek die Vrydagoggend wakker word om werk toe te gaan het ek dieselfde gevoel in my bene gehad. Toe ek by die werk aankom het dinge ernstig begin raak met simptome van lighoofdigheid. Later kon ek nie meer staan nie – en dit op ’n besige dag toe ons met voorraadopname besig was,” sê hy.
Kulati het toe sy werkgewer gevra of hy verskoon kon word omdat hy nie goed voel nie. Hy is toe aangesê om ’n dokter te gaan sien.
“Die dokter het my ’n inspuiting gegee en ek is toe huis toe om te gaan slaap. Toe ek die volgende oggend wou opstaan kon ek glad nie loop nie. Ek is toe na die hospitaal geneem waar die dokter my meegedeel het dat hy ’n groeisel aan my ruggraat sien.
“Ek is toe geopereer, maar daar was toe net vloeistof op die ruggraat wat hy gedreineer het. Sedertdien is ek in ’n rolstoel,” sê Kulati.





