Die bekende “Brigadier” Hannes Slabbert van Despatch is Maandag oorlede. Foto:HEILIE COMBRINCK


Hannes Slabbert (86), een van Despatch se bekendste inwoners, is Maandag 22 Augustus oorlede.

Slabbert was ’n lid van die destydse Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie en het as brigadier uit dié diens getree.

“My pa het in 1957 by die spoorwegpolisie-kollege in Kroonstad aangemeld vir diens. Hy was die laaste van daardie peleton wat nou gegroet het,” sê Louwtjie Slabbert, oom Hannes se oudste seun.

“Wat ek van hom sal mis, is sy ongelooflike kennis oor so baie dinge. En ons koffiedrink op die stoep elke middag om vieruur.”

Slabbert het in 2019 ’n boek, Despatch Stories oor die Dorp en sy Mense, saamgestel en uitgegee. In die voorwoord het Slabbert geskryf: “Dit is nie ’n wetenskaplike studiestuk nie, maar eerder net ’n beskrywing vir die bewaring van ons dorp se geskiedenis.”

Frans Swanepoel, raadslid van Despatch sê, “Al was oom Hannes, of Brigadier soos ek hom genoem het, reeds op ’n hoë ouderdom, was hy steeds betrokke op die dorp en altyd bereid gewees om te help waar hy kon. Hy was iemand waarna ek opgekyk het. Brigadier was ’n toonbeeld van ‘jy moet jou naaste liefhê soos jouself’.”

Tot en met sy afsterwe was Slabbert en sy vrou, Margery, die oudste getroude paar op Despatch. Oom Hannes, soos hy onder joernaliste bekend was, was ‘n gereelde briefskrywer aan Die Burger Oos-Kaap. Hy het ook artikels oor sy reise na en belewenisse van klein en vergete Oos-Kaapse spoorwegdorpies vir die Oos-Kaap Buite geskryf.

Slabbert word oorleef deur sy vrou, drie kinders Louwrens Slabbert, Charles Slabbert en Rina Janse van Vuuren, sowel as vier kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Sy roudiens is vandag, 25 Augustus 15:00 vanuit NGK Despatch-Suid en kan ook gevolg word by: https://www.youtube.com/watch?v=yBqIpguOtiM

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article