Met pikke en grawe het jeugdiges die stof laat trek soos hulle gehelp het om ‘n veld aan die uithoeke van Lapland te ontbos om daar rugby en netbal te kan speel.
“Ons noem dit The House of Pain want die grond is hard, ongelyk en vol bossies wat krap. As jy val of getackle word, maak jy goed kennis met die aarde. Maar dit keer nie die kinders om hier te oefen en speel nie,” sê Trafford Malgas (52) afrigter van een van die rugbyspanne wat hulself die Binnekring noem.
Ten spyte van geen fasiliteite, die rowwe speeloppervlak en geen behoorlike spankleure nie, is die eerste rugby- en netbalwedstryde verlede naweek daar tot groot vermaak van die Lapland-gemeenskap aangebied, met die finale wat Saterdag gehou word.
“Ons kinders, jonges en gemeenskap word vernietig deur dwelms en misdaad. Weekliks sterf hier iemand, tikkoppe het geen toekoms nie. Maar sport kan jou ‘n toekoms gee, dit is mos lekker en gesond. Die wêreld se grootste helde is op sportvelde.”
Malgas sê hy is nie verniet vernoem na Manchester United se tuisveld, Trafford nie, want hy is mal oor sport en was ‘n kranige rugbyspeler wat vir die plaaslike klubs Violets en Gardens as senter, heelagter en losskakel uitgedraf het.
Hy speel steeds, maar deesdae saam met die jonges op The House of Pain waar sy kleinkind en drie van sy seuns ook saam met hom speel.
“Kyk hoe lyk ek. Stukkend geval. Maar dit is vir my so lekker om die jong talent te sien en te help ontwikkel. Dit gee my hoop. Ek wens die hele gemeenskap besef hoe belangrik sport is,” sê Malgas, ‘n Sanlam-versekeringskonsultant van beroep en ook ‘n geestelike leier in Lapland.
Van kleuters met selfgemaakte plastiekballe uit koeldrankbottels tot spelers in hul laat twintigs speel op The House of Pain. Die Humble Boys (OHB’s) se spelers het nie ‘n afrigter nie en vervul self dié taak terwyl hulle speel.
Die Black Eagles word deur Stanley Maart afgerig.
“Die kinders speel graag bal in die strate. Dit was hulle inisiatief om hier ‘n rugby- en netbalveld te kom maak. Hulle het self daardie rugbypale geplant en nou kom hier al hoe meer wat wil saamspeel.
“Ek sien die verskil wat hierdie sportveld in ons gemeenskap maak. Dit kan net beter gaan. Veral as ons hulp kan kry om die veld gelyk te maak, dalk ‘n paar balle, truie en stewels ook. Hier is baie talent en wie weet, eendag draf een van hierdie House of Pain-spelers dalk vir ‘n provinsiale of nasionale span uit!”
Die netbalspan noem hulself Dream Girls en hulle het ook ‘n veld vir hulle skoongemaak. Daar is ‘n paar talentvolle netbalspelers en hulle sien uit om teen ander klubs mee te ding.
- Vir meer inligting of om te help om die House of Pain rugby- en netbalveld gelyk te help kry, bel Trafford Malgas by 078 042 3700.





