Dit het ses weke gekoppel aan ’n ventilator in die waakeenheid, drie weke in ’n gewone hospitaalsaal, bykans nóg drie weke in ’n rehabilitasiehospitaal en baie gebede gekos vir Paul Barnes, eienaar van Despatch Superspar om sy stryd teen COVID-19 te wen. 

Só sê Roselle Barnes oor haar man, Paul, wat verlede week ná drie maande uiteindelik terug by hul huis is. Tydens Paul se lang siekbed het die dokter vir Roselle gesê daar is ’n 50-50-kans vir haar man om te oorleef.   

’n Emosionele Paul Barnes vertel van sy sowat drie

’n Emosionele Paul Barnes vertel van sy sowat drie maande lange herstelpad nadat hy COVID-19 opgedoen het. Foto: Lulama Zenzile

Ondanks dié kundige mening, en verskeie waarskuwings van mense dat sy liefs haar man moet gaan groet, het sy nooit moed verloor nie. 

Sy onthou die oggend van 11 Desember toe Paul weens asemnood met ’n ambulans na ’n hospitaal geneem is. Hoewel sy toestand oënskynlik verbeter en hy gereed gemaak het om binne twee dae weer ontslaan te word, het sake oornag drasties verander.

“Ek het Paul die volgende oggend gebel, maar kon nie uitmaak wat hy sê nie. Toe stuur hy ’n SMS wat sê, ‘Bid asseblief vir my’ en dit was die laaste wat ek met hom gepraat het vir ’n baie lang tyd.”

Die hospitaalpersoneel het hierna gesê Paul het ernstige asemhalingsprobleme begin ervaar, waarna hulle hom na die waakeenheid oorgeplaas en in ’n geïnduseerde koma aan ’n ventilator gekoppel het. 

“Dit was ’n baie groot skok. Ek het net daar meer ernstig gebid en my man vir die Here gegee, want dit is in Sy hande.”Vir die eerste keer moes Roselle ook die leisels van die winkel oorneem. 

“Die Despatch-gemeenskap en Paul se personeel se liefde en omgee was so wonderlik. Dit is hier waar ek gereeld gehoor het hoeveel hulp Paul aan die gemeenskap bied, want Paul het nie by my oor sy werk gespog nie. Ek het werklik geëerd gevoel om sy vrou te wees.”

Met ’n groot gejubel het ’n erewag van Despatchers Paul Barnes Vrydag by Despatch Superspar gegroet. Hy is deur veteraanmotor-entoesiaste in ’n Chevvy opgelaai en na sy winkel gebring waar sy oorstelpte personeel en kliënte hom ingewag het. Hier is van links Jimmy Share, Grant Barnes (12), Paul Barnes, Dylan Barnes (12), Gerry Strydom, Frans Swanepoel en Hein van Rensburg by die twee Chevvy’s waarmee Paul Barnes na Despatch gebring is. Foto: Verskaf
Paul Barnes en sy vrou Roselle by hul kinders (agt

Paul Barnes en sy vrou Roselle by hul kinders (agter van links) Gabrial (13), Grant (12) en Dylan (12). Foto: Lulama Zenzile

Oor die tydperk in die koma sê Paul hy onthou ’n oomblik waar hy in sy onderbewussyn ’n ernstige konfrontasie met mense gehad het, maar hy die volgende oomblik het hy ’n ongekende rustigheid begin ervaar. “Ek kan helder onthou hoe alles stil en rustig geraak het. Skielik was ek op vakansie saam met my familie by Kaap St. Francis,” sê Paul.

Maar dit was eers heelwat later in Januarie dat hy uit die koma gebring is en besef het hy het Kersfees en hul tweeling se verjaardag in die hospitaal deurgebring. 

“Ek het gedink ek was net ’n week of twee in die hospitaal.”

Oplaas, teen vroeg Februarie, het Roselle ’n oproep van Paul ontvang wat met ’n hees stem sê hy kan oor sewe dae ontslaan word. Maar sy geveg was nog nie verby nie; daar het vier weke in die Aurora-rehabilitasiehospitaal voorgelê.

“Oor dié tyd in die hospitaal het ek 20 kg verloor. Buiten om my hande te gebruik om myself te voer, kon ek niks verder vir myself doen nie.”

Volgens die doktersvoorskrif sou Paul se rehabilitasie minstens vier weke neem, maar ná net twee en ’n half weke het Paul self by Aurora uitgestap en huis toe gegaan. “Dit was vir my belangrik om myself te kan help. Ek het gesorg dat ek ’n stresbal kry en my hande solank oefen. 

“Die probleem is, mense is geskok wanner hulle COVID-19 opdoen, maar dan doen hulle niks daaroor nie. Jy moet net begin werk, al beweeg jy net jou tone; dit is ’n stap in die regte rigting.”

Roselle sê, “Ons is dankbaar vir elke gebed en elke dokter en verpleegster wat Paul gehelp het.”

Paul is Vrydag deur ’n groep veteraanmotor-entoesiaste na Despatch Superspar geneem waar sy oorstelpte personeel en kliënte hom met ’n erewag ingewag het. Hy sal vir eers net twee uur per dag by die winkel wees, voordat hy later weer voltyds inval.  

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article