’n Vrou van Despatch, wat nog haar hele lewe lank werk toe gestap het, se droom om eendag ’n kar van haar eie te besit, het waar geword nadat sy inkopies gaan doen het.
Colleen Strydom (48) is nou die trotse eienaar van ’n spoggerige bloedrooi-en-swart Hyundai Grand i10-kar wat sy by Despatch Superspar gewen het.
“Al wat ek in my lewe nog gewen het was ’n pak mieliemeel. En wraggies, daar wen ek nou ’n kar,” sê Colleen van Daisy’s Nursery in Bothastraat op die dorp.
“Ek kon nog nooit ’n kar bekostig nie. Daarom het ek nie eers geworry oor ’n bestuurs- lisensie nie. Maar, toe ek die nuus oor die kar kry, het ek dadelik ’n afspraak gemaak om vir my leerlinglisensie te gaan.”
Colleen sê sy koop daagliks by Despatch Superspar en toe sy die oproep kry dat sy ’n kar gewen het, was sy aanvanklik skepties.
“Ek het gedink ai tog, dit is een van daardie telefoonbemarkers.
“Ek was nie van die vriendelikste nie en het vir die vrou gesê ‘Bel my môre, ek is baie besig’. Toe sê sy, ‘But you have won a car!’”
Steeds het die goeie nuus nie by Colleen ingesink nie.
“Eers toe ek die kar sien, het die realiteit my getref.”
Hoewel sy nie ’n lisensie het nie, kan Colleen wel motor bestuur.
“Maar ek wou dit nie waag om ’n eerste oortreding te begaan nie toe vra ek my dogter se vriend, Clayton Killian, om my op my eerste rit in my splinternuwe motor huis toe te neem.”
Maar passasier-status is nie vir Colleen nie. “Ek loop nog my hele lewe lank werk toe, maar nie meer vir lank nie.
“Een van die dae gaan ek in hierdie rooi karretjie werk toe ry!”
Paul Barnes, eienaar van Despatch Superspar sê Colleen het haar motor in die nasionale Spar Rewards-kompetisie gewen.
Altesaam 50 Hyundai Grand i10 voertuie kan deur gelukkige Spar-kliënte in sekere nasionale streke, sowel as Namibië, gewen word.
Paul sê al wat kliënte moet doen om ’n kans te staan om een van die karre te wen, is om sekere Spar Rewards-produkte in Spar-winkels te koop. Die kompetisie sluit op 6 Junie en die laaste trekking is op 7 Junie.


