Die Koöperasie-groep het die klaargeboude handelstak op Kirkwood gevier met ’n openingsfees wat produkpromosies, uitstallings en gelukkige trekkings aangebied het.
Nagenoeg 40 verskaffers het die afgelope Vrydag uitgestal met musiek en braai van boereworsrolle wat deur plaaslike instansies behartig is.
Gemik om kliënte die kans te bied om met verskaffers te gesels, was dit ’n gulde geleentheid om sosiaal te verkeer na die maandelange inperkings op openbare samekomste.
“Ons besigheid behoort aan boere en ons streef daarna om die volhoubare winsgewendheid van ons lede te handhaaf” sê Henk Agenbach, uitvoerende hoof van Die Koöperasie-groep.
“Daarmee saam gaan koste-effektiewe dienslewering en die kollektiewe bedinging vir kwaliteit produkte. Die investering in eiendom, te-same met die aanpassing ten opsigte van lede en kliënte se toenemende behoeftes, staaf Die Koöperasie se groei en ontwikkelingsdoel.”
Tydens die vieringe was daar ‘n skyfskietkompetisie en drie jongmanne het weggestap met windbukse en Daisy BB gewere met komplimente van River Bioscience.
Met kuiersitplekke op bale, stomende warm drankies en ‘n Fitch & Leeds trok was die feestelike atmosfeer nie gedemp deur gure weer nie.
Die Koöperasie, met hul hoofkantoor op Humansdorp, is ’n landboukoöperasie wat ondersteuning bied aan alle boerderydissiplines in Suid-Afrika met meer as 34 kommersiële handelstakke en 17 depots binne die groep.



