TAKKE van Die Koöpersie gaan môre heelwat meer bied as die gewone boerderybenodigdhede, want daar gaan behoorlik gewoeker word ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).
Die Koöperasie-groep pak jaarliks die uitdaging aan om fondse in te samel vir Kansa en maak staat op die publiek om te deel in die kompetisies, verkope en haarspuitpret.
“Ons almal se lewens word op een of ander wyse beïnvloed deur die ‘Groot K’ daarom hou ons dié Kankerdag om fondse in te samel vir Kansa,” sê Werner Gouws van Die Koöperasie se Uitenhage-tak.
Op Uitenhage kan waaghalsiges môre (Vrydag, 29 Junie) vanaf 10:00 by Die Koöperasie in ’n gesellige naweekbui kom deur hulle hare te kleurspuit teen ’n donasie van R10. Ander fondsinsamelings by dié tak sluit in verkope van worsrolletjies, tuisgebak en daar sal selfs ’n paar handgemaakte items ook te koop aangebied word.
Lootjies vir ’n miniatuur 20 liter jojo tenk wat gevul kan word met vrugtesap of enige ander drinkgoed kan gekoop word en daar is ’n handige tuinmaak-geskenkpak wat gewen kan word.
“Kom help ons om die Vrydag-wintersdag so bietjie op te kikker deur jou hare helder te spuit of kom kuier by ons stalletjies by Die Koöperasie, dit is alles vir ’n goeie doel,” sê Werner.
Ander deelnemende Die Koöperasie-takke wat daar ook môre meer as die gewone boerdery-aankope gaan gebeur is by Hermitage, Kirkwood, Patensie, Humansdorp, Karee-douw, Port Elizabeth, Bathurst en Oos-Londen. – HEILIE COMBRINCK


