Die nuwe Suzuki Eeco 1.2 paneelwa.

Foto: Willemien Green

Die nuwe Suzuki Eeco 1.2 paneelwa.

“Koddig, man.” Dit was die reaksie van die skrywer RR Ryger toe ek, Willemien Green, hom en sy seun Gareth met die nuwe Suzuki Eeco 1.2 paneelwa oplaai vir ’n uitstappie na die Laer Van Stadensdam by Lady Slipper net buite Gqeberha.

Die doel van die uitstappie was tweeledig – eerstens om die Eeco te toetsbestuur en tweedens om weer ’n slag ’n bietjie in die natuur te kom.

Ryger se opmerking dat die Eeco “koddig”’ is, is van pas. Maar hy is ’n mooi een om te praat. Sy nuwe musiekvideo, Vreet ek die Pad, het ook onlangs op YouTube verskyn en dit kan gewis ook as “koddig” beskryf word!

In die video speel Ryger en sy seun hulle is “aliens” wat die aarde besoek, net om per ongeluk alkoholiste te word!

In een toneel klap die twee “aliens” die wit waks uitmekaar voor hulle vrede maak en dan soos berserkers in ’n straat afhardloop met donkerbrille wat hulle sensitiewe oë teen die stadsliggies moet beskerm.

Maar ja, die Eeco kan sekerlik as “koddig” deurgaan.

Dit is ’n smal (1.475mm) paneelwa. En baie kort (3.675mm). Jy voel half soos ’n reus as jy agter die stuurwiel inskuif.

My eerste indruk was dat jy nogal moet kophou as jy agteruit ry, want die agterkant van die wa het nie vensters nie en as jy daaraan gewoond is om deur baie vensters te kyk, kan jy sukkel.

Binne is die bussie baie basies. Niks “fancy” nie. Maar dit is immers veronderstel om ’n aflewe-ringsbussie/wa te wees om in die stad gebruik te word.

Die groot ding is die bussie is lig op brandstof (5.4 liter per 100 km), hy het genoeg spasie vir wat jy ookal wil aflewer en hy “zirts’ heel gemaklik deur die besige verkeer.

Hy sit ook heel lekker stewig op ’n grondpad, vind ons toe uit toe ons daar by Lady Slipper afdraai. En die bakwerk is redelik hoog, so dis geen geskraap teen ’n middelmannetjie hier en daar nie.

Nou ja, met die die stappie van die hek na die riviere en dam is ’n ander storie, hoor.

Die eerste ent is so lekker, die vars lug, die groen plantegroei (na die goeie reën wat die afgelope tyd in Gqeberha uitgesak het) en die voëltjies wat ons koggel: “Kyk daai bene, tweet-tweet!”

So entjie verder raak die pad skielik baie skuins ondertoe. Ek praat nou van meer as 45 grade!

“Nee, vergeet dit, hier gaan ek nie af nie! Ek sal nooit weer bo kom nie!” het ek van my laat hoor.

Juis toe kom daar ’n groep studente van onder af aangestap. Of liewer, twee het soos daardie “aliens” in die Ryger-video opgehardloop terwyl die res van die groep mekaar uitgeput aan die arms die bult tot bo uitgesleep het.

“Moenie tot onder gaan nie, Tannie,” het ’n meisiekind my gewaarsku, die terugstap is regtig verskriklik moeilik!”

“Ja, maar darem ook verskriklik mooi!” het sommige van die hardlopers entoesiasties gehyg.

Dis toe dat ek my eerder op ’n groot klip tuisgemaak het, soos die fluitende predikantsvrou saam met die voeltjies begin fluit het en vir Ryger en sy seun gewaai het toe hulle die pad verder aangedurf het.

Na ’n ruk het hulle teruggekeer met boeiende verhale, van pyn en sweet en die allermooiste natuurskoon.

“Het julle vir my ’n foto ge-neem?” het ek gevra.

“Natuurlik het ons!” het hulle geantwoord en hulle selfone uitgehaal.

Terug stad toe het ons sommer op die N2 geglip. Die Eeco het hom nie sleg gedra nie, maar ek moet sê, dit voel nogal of jy vinniger ry as jy hier by 100 km/h kom.

Dit het my nie regtig gepla nie, omdat ek in elk geval gewoonlik maar stadig ry.

Nou dink ek self daaraan om dalk so ’n bussie aan te skaf, ’n matras agter in te gooi en deur die land te kampeer. Of ek die “aliens” gaan saam neem is egter ’n ander saak!

Die steil pad af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article