DUIWEBOER Boertjie Nell het weereens jong duifies aan die Despatch Posduifklub geskenk wat môre by ’n veiling op die dorp te koop aangebied word.
Daar is ongeveer 100 jongduifies. Almal, behalwe ’n paar wat hy vir teeldoeleindes geteel het, word te koop aangebied.
Volgens Hennie le Roux, is die bloedlyne beskikbaar van sy ou Grant Putterie familie, Juweel/Valk familie beter bekend as die “Boer Nelle”.
“Die beste geteel uit Michael Engelbrecht van Oos Londen – Harrys & Freddies, Heremans, Geerincks, Tom Locks vanaf Kiewiet Breytenbach – baie na aan die oorspronklikes,” sê Le Roux.
Teling van duiwe is Boertjie se passie. Hy is baie streng met sy seleksie.
“Die prestasies van Boertjie se duiwe het geen bekendstelling nodig nie. Sy hok tel seker onder die drie bestes in die Unie.”
‘n Paar van die plaaslike duiwe boere wat goed met sy duiwe vlieg is onder andere Dean Anderson, Clayton Gouws, Clayton van der Westhuizen en Hennie le Roux. Mario du Toit het vanjaar ’n Unie-wedvlug met ’n duif wat hy verlede jaar op die jongduifveiling gekoop het gewen.
“Daar sal gepoog word om die stambome sover as moontlik te verskaf. ’n Verkooplys sal mettertyd beskikbaar wees.
Boertjie het ingewillig om ’n paar stock duiwe te skenk aan die koper wat die meeste geld op die veiling spandeer,” sê Le Roux.
Die veiling word môre (Vrydag, 9 Oktober) by Despatch Posduifklub gehou. Besigtiging is vanaf 17:00 en die veiling begin om 19:30.
) Telefoniese aanbiedinge kan ook gemaak word. Vir enige verdere besonderhede kan Hennie by 076 140 9347 of Boertjie by 083 709 2067 gekontak word.


