Grusame tonele van ’n geveg tussen ’n pitbull-hond en varke het Saterdagoggend in Kariega se Vanes-woonbuurt afgespeel.
Inwoners sowel as munisipale werkers van die parke-afdeling het hul lewens gewaag om ’n einde aan dié stryd te bring.
’n Inwoner van Vanes, wat verkies om ano- niem te bly, het gesê, “ons het die vyf varke, ‘n sog met haar drie kleintjies en nog so middelslag outjie, hier by ons huis gesien verbygaan. Toe hulle by die hoek van Orrstraat en Stry-domlaan kom, het ’n pitbul iewers uit ’n erf gekom en een van die baba-varkies gegryp en rondgeskud.
“Die sog het aanhoudend die hond bestorm om haar kleintjie te probeer red. Die hond het die klein varkie se nek oopgeskeur. Orals was daar bloed.
“Ek het weereens besef, moet nie aan ’n ma se kind vat nie, want ‘n ma kan doodmaak vir haar kinders. Die sog het aangehou om die pitbull te bestorm en toe los die hond die kleintjie en gryp haar aan die oor en ruk haar rond.
“Bure het kom help en die pitbull wou almal bestorm. Uiteindelik, na ’n lang gesukkel, kon ons die hond terugjaag in die erf waar dit bly.”
Die Uitenhage Dierebeskermingsvereniging is gebel en nadat hulle opgedaag het, is die hulp van die munisipale dierebeheer ook ingeroep. Intussen het die sog en haar verskeurde en bebloede kleintjie in Hullstraat afgestrompel.
Munisipale werkers van die parke-afdeling, wat in dié straat besig was om ‘n boom af te saag, het tot die sog en haar kleintjie se redding gekom en hulle gevang.
“Dit was ’n helse stryd om die varke te vang. Die sog is groot en varkvang is nie maklik nie. Maar daardie manne het dit reggekry en die ma en haar kleintjie op hulle trok gelaai terwyl daar vir die munisipale dierebeheer gewag is. Daardie ouens was die helde van die dag.
“Dit is maar ’n probleem en hartseer storie met die rondloper-diere hier in die woonbuurt. Maar die pitbull is meer van ’n bekommernis want hier is baie mense wat hier in die straat met hulle honde stap,” het die inwoner gesê.
Inspekteur Mariaan Wentzel van die Uitenhage DBV het gesê die voorval word ondersoek.
“Die klein varkie het nie die aanval oorleef nie, maar die sog is aan die herstel,” het Wentzel gesê.



