In tye van vrees en onsekerheid hunker die meeste mense na helde. Niè fliekhelde wat met gebalde vuis en gelaaide woord dinge woerts-warts regkry nie, maar die “gewone” mense wat met deernis, geduld, wysheid en medemenslikheid ander wil help. Hulle wat passievol is om ander te help, al stel dit hul eie lewens in gevaar, hùlle is die helde.
Op Despatch en Kariega is daar só ‘n held. Sy naam is Sulayman “Solly” Luyt, voorste linie-werker in die stryd teen COVID-19. Sy nommer – 078 098 9796 – is deesdae op baie mense se selfone as spoedbelnommer gelaai.
“My hele lewe nog is dit my passie om ander te help. Maar ek het nooit gedink ek sal ooit ‘n pandemie beleef waarin ek byna daagliks die vrees vir die dood in mense se gesigte moet aanskou nie. Niks kon my hiervoor voorberei nie,” sê Solly.
Solly is verantwoordelik vir Relay-ambulansdiens se noodhulpopleiding en kliëntediens en hy dien as skakelpersoon wat ondersteuning bied aan mense wat positief toets vir COVID-19 sowel as aan hul families.
“My raad is gratis, dit is ‘n diens wat Relay lewer om lewens te help red deur mense te help om ingeligte keuses te maak. Dit is so belangrik dat mense in hierdie pandemie ‘n ingeligte keuse moet maak.
“Baie mense soek raad, maar leen ongelukkig hul ore uit aan raad wat nie regtig help nie. Mense moet versigtig wees om nie WhatsApp boodskappe aan te stuur met inligting wat nie medies bewys kan word nie.
“Nog ‘n uitdaging waarmee ons byna daagliks te doen kry, is dat mense bang is om hospitaal toe te gaan. Teen die tyd wat hulle uiteindelik die ambulans bel, is dit laat – in baie gevalle te laat. Ons moedig mense aan wat positief toets vir die virus, om vroegtydig hulp te ontbied.”
Solly stap ook die pad saam met mense wat in die proses van herstel is asook diegene wat lank reeds herstel het, maar sielkundig nog sukkel. Selfs familielede wat raad nodig het, kan Solly bel.
“Die bestuur het gesê ‘…Solly, jy hou mos van gesels, praat met die mense, gee hulle die regte raad, gee hulle hoop.’ So, my doel met my gesprekke is om met mediese kennis gemoedsrus aan mense te bring. Hoe gouer iemand wat positief toets en mediese versorging benodig dit kry, hoe beter.
“’Sielkundig is hierdie virus ook ‘n groot vyand omdat ‘n mens nie weet waar jy aansteek nie en wat die uitwerking daarvan op jou gaan wees nie. Ek sê baie vir mense hulle moet nie die ding krag in hulle koppe gee nie. Fight dit met die regte keuses.”
Om vir ‘n nooddiens te werk, was van kleintyd af Solly se droom. Sy droom is amper gekelder toe hy na skool aansoek gedoen het vir opleiding by die ambulansdiens en daar vir hom gesê is hy was te kort.
“Ek mag miskien kort wees, maar my geduld en passie vir nooddienswerk is onmeetbaar.”
Solly het nadat hy gemeet en te kort bevind is, by Volkswagen Suid-Afrika gaan werk, maar het bly hunker daarna om ander in nood te help. Toe die geleentheid 12 jaar gelede oor sy pad gekom het, het Solly dit aangegryp en by Relay-ambulansdiens begin werk.
Hy sê met die uitbreek van die pandemie het Relay se operasionele bestuur wondere verrig om binne ‘n kort tyd met beperkte inligting, genoeg navorsing te kon inwin om die personeel so goed moontlik teen die virus en omstandighede te beskerm. Sedertdien is dié nooddiens-maatskappy se statistieke ‘n bron van betroubare en insiggewende tendense wat toegepas word in die uitvoering van hulle voorste linie pligte.
“Niemand het verlede jaar presies geweet wat doen die virus en hoe reageer dit en wat gaan werk en wat nie. Maar ons moes lewens red, en ons werk het net meer en meer geword. Soms gedaan gewerk op pad huistoe na my familie, het die vrees my beetgekry, want wat as ek my mense aansteek?
“Ek sal nooit my heel eerste geval wat ek met die virus te doen gehad het, vergeet nie. Dit was in Zwide, ek was nog besig om my beskermingsklere aan te trek toe staan die vreesbevange pasiënt by my want sy kon nie asem kry nie. Op pad hospitaal het die vrees en onsekerheid ook aan my begin knaag want ek was bang ek het die virus opgedoen.”
Daardie keer was dit vir Solly gespaar, maar hy het wel in Julie 2020 tydens die eerste golf van COVID-19 positief getoets en wonderbaarlik herstel. En ja, daar is van sy familie en vriende wat nie COVID-19 oorleef het nie.
“’n Positiewe ding wat die pandemie wel teweeg gebring het, is dat mense meer vir mekaar omgee. Dit het mense en selfs gemeenskappe weer bymekaar gebring. Dit is asof mense besef hoe kosbaar is die lewe, hoe kosbaar is elke dag wat jy gesond is. Daarom is my raad, waardeer jou familie en jou vriende.”
Waardering aan die mediese werkers wat in die voorste linie teen COVID-19 staan, is ook in hierdie moeilike tye baie belangrik.
“Ons waardeer dit só wanneer mense ‘baie dankie’ sê. Ons is almal saam in hierdie pandemie en ons moet mekaar ondersteun, ons het mekaar nodig.”


