Evette de Jager staan voor haar huis op Despatch waar ’n gewapende kaper haar uit haar motor geruk het en weggejaag het.

Foto: Heilie Combrinck

“Nooit sou ek kon dink dat ek helder oordag, hier voor my huis in ‘n stil straat op Despatch, deel van die gewapende motorkaping-statistiek sou word nie.”

So sê Evette de Jager nadat die rooi Opel Kadett waarin sy gery het op Maandag, 11 April om sowat 07:40 gekaap is toe sy voor haar huis in President Reitz-straat gestop het.

“Maandae is swartsak-dag dan loop hier baie mense in die strate rond. Ek is altyd bewus van wat om my aangaan. Ek het die man gesien, daar was niks verdags aan hom nie,” sê Evette.

“Ek het skaars gestop toe ruk hy die kardeur oop. Ek het geskrik en gedink wil die man werk hê of wat? Toe sê hy ‘give me the keys’. Ek dog hy maak ‘n grap, toe sê hy ‘start the car’ en rig ‘n pistool op my.

“Toe panic ek en start die kar, waarna hy my aan my mou uitgeruk het, ingeklim het en met skreeuende bande weggejaag het.

“Ek het nie omgekyk nie. Al wat ek onthou is sy se wrede oë.

“Ek het probeer kophou en dadelik in die huis ingehardloop en Atlas se paniekknoppie gedruk. Toe bel ek ‘n vriend en my pa.”

Volgens Evette was Atlas binne twee minute op die toneel. Daarna het die polisie sowel as verskeie ander mense opgedaag.

“Die reaksie was ongelooflik goed. Daar was onmiddellik bystand.”

Die woord van Evette se gewapende kaping was uit en dit het op die WhatsApp Despatch-noodgroep gegons.

Mense is versoek om uit te kyk vir die rooi Opel Kadett met ‘n spesifieke registrasienommer.

‘n Veiligheidskamera het die motor afgeneem en om 09:30 is die foto op die Despatch-noodgroep geplaas.

“’n Uur later, 10:30, het die polisie die kar in Booysenspark by ‘n winkelsentrum se parkeerarea gekry. My beursie met al my bankkaarte en ID was weg. Ook die R6 000 kontant wat ek getrek het.”

Evette sê na die kaping ly sy aan slapeloosheid, lyk almal vir haar verdag, en is sy bang om by ‘n stopstraat te stop.

“Ek sê net dankie Here ek leef. Want in daardie paar sekondes het my hele 42-jaar van lewe voor my afgespeel.”

Sy bedank Atlas, Despatch-polisie, die Despatch-noodgroep en almal wat binne minute bystand gebied het, sowel as diegene wat nou nog, dae later, steeds hulle oor haar welstand ontferm.

Evette sê haar raad is om nie by jou huis te stop indien daar vreemdes naby is nie.

“Ry eerder nog ‘n draai, of laat weet jou noodgroep of sektorpolisie indien iemand verdag lyk. Moet nie probeer dapper wees nie, jou lewe is baie meer werd”.

Kaptein Gerda Swart, polisie- woordvoerder, het bevestig dat daar ‘n motorkaping-saak op Despatch geopen is en dat die motor dieselfde dag teruggekry is.

Die polisie het die rooi Opel Kadett binne drie ure na die kaping op Despatch by ‘n winkelsentrum in Booysenspark opgespoor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article