Amper 180 dae lank was Chris Jansen van Nieuwenhuizen (52) van Despatch in ’n oorlewingstryd teen COVID-19 gewikkel. Vandag pak hy sy herstelpad, gekoppel aan suurstofpyp, treetjie vir treetjie aan. Heilie Combrinck het by Chris en sy familie gaan kuier om te hoor hoe hierdie beproewingspad hul lewensuitkyk verander het.
Ilse Jansen van Nieuwenhuizen maak die voordeur oop. Ons stap deur na die sitkamer, gaan sit.
Die sagte geskuifel van sleepvoet-treë in die gang sê vir my haar wederhelf Chris, die man wat sy 180 dae lange stryd teen COVID-19 oorleef het, is oppad.
Ek weet nie wat om te verwag nie.
Die sitkamerdeur gaan oop, Chris knikgroet. Sy regterhand is om die trapreling geklem. In sy linkerhand is die suurstofpyp – 30 meter lank.
Hier voor my staan ’n man wat eens superfiks en ’n ywerige fietsryer en skopbokser was. Een wat met sy hond rante uitgehardloop het asof dit ’n plat stuk aarde was.
Nou loop Chris treetjie vir treetjie– met handrelings as steun. Sy vriend Derek Inggs het dié relings binne en buite die huis as loop-steun vir Chris aangebring.
“Die suurstofpyp is partykeer in die pad want dit is baie lank, maar dit gee Chris darem die vryheid om ’n hele ent te loop. Hy kan nie die swaar suurstofbottel dra nie,” sê Ilse.
Sy het ook COVID-19 opgedoen maar was na twee weke weer gesond. Chris was vir 102 dae op ’n ventilator in Life St Georges hospitaal se intensiewe sorg en vir 75 dae by Aurora rehabilitasie-sentrum. Sy asemhaling is swak, hy praat daarom berekend. Hy vertel hy kan sekere ervaringe goed onthou, al was hy onder sedasie in die hospitaal en al het COVID-19 sy korttermyn geheue aangetas. Chris het ook bonatuurlike ervaringe beleef.
Engele in die hospitaal
“Daar was drie keer wat ek dit amper nie gemaak het nie. Ek kon hoor hoe die dokter op ’n stadium gepanic en gesê het hy sal moet groter sny, want hulle kon nie deur die lugpyp by my longe uitkom nie.
“Ek kon ook hoor hoe die dokter vir my vrou gesê het sy moet die ergste verwag. Jy hoor alles, maar voel niks en kan nie reageer nie.”
Chris bly ’n rukkie stil, sê dan daar is baie engele in die hospitaal en een van hulle is die pulmonoloog, dr. David Stickells.
“Wanneer hy aan my geraak het, kon ek lewensenergie deur my lyf voel. Toe ek bykom, het ek gevra ek wil die man met die besonderse hande sien, daar moet iets spesiaals aan hom wees.”
Dit was vir Chris ’n groot oomblik toe hy, weer by sy bewussyn, dr. Stickells kon ontmoet.
Op ’n meer persoonlike vlak besef Chris die virus het hom na liggaam en gees afgetakel.
“Hoekom ek nog lewe, weet ek nie, maar ek is hier. Dit is my journey. En ek gáán lewe!
“Ek was voor die Poorte. Ek het aangekom by groot deure en ’n wese het sy arm opgelig, kant toe gedraai en vir my gesê: Dit is nie jou tyd nie, gaan terug en maak reg.”
Cathy Crouse, Chris se suster sê dit is God se genade dat Chris vandag nog met hulle is.
“Menslik gesproke is daar nie ’n manier dat hy kon oorleef nie. Sy statistiek was baie slegter as ander wat oorlede is, hy was oorwerk en is ’n diabeet. Sy herstel is regtig ’n wonderwerk.”
Ilse knik instemmend haar kop. “Geloof en ’n netwerk van ondersteuning en bemoediging dra ’n mens deur die moeilike tye.”
Littekens en helde
Chris se knieë is oortrek met rowe. Tekens van diep, groot, bedsere. Daar is ook ’n diep letsel oor sy linkerwangbeen. Hy sê hy moes vir lang tye vooroor op sy knieë lê sodat sy longe beter kon funksioneer.
“Ons vermoed dit is wat die groot bedsere op sy knieë en diep letsel oor sy linkerwang veroorsaak het,” sê Cathy.
Na sy maandelange kliniese herstel in die hospitaal, moes Chris leer om weer te praat, eet, loop en om sy hande te gebruik.
Cathy kyk na hom, sê dan: “Die terapeute en werkers van die Aurora-rehabilitasiesentrum is die helde wat my broer geleer het om weer die alledaagse van die lewe te kan doen.”
Chris begin dadelik praat oor een van sy helde – een van die toegewyde hulpwerkers wat Chris “skelm” gehelp oefen het om op te staan en weer te leer loop.
“Ek het haar Sannie genoem, want sy het my Jannie genoem. Die fisioterapeut kon nie glo ek het so vinnig geleer opstaan en loop nie, maar sy het nie geweet hoe baie Sannie my gehelp het nie.”
Tydens Chris se tyd in die rehabilitasie-sentrum het een van sy dogters, Teané getrou. Hy is toegelaat om die troue by te woon.
“As dit nie vir Sannie was nie, sou ek nie sterk genoeg wees om op te kon staan en my dogter aan haar man te gee nie.”
Chris het ook tydens sy Aurora-tyd oupa geword toe sy ander dogter, Simoné, in Israel geboorte geskenk het aan ’n seuntjie. En dan was daar sy Oom Jan Nel van Amerika.
“Hy het links en regs gereël dat iemand biltong en droëwors na my in die rehabilitasiesentrum moes bring. My oom het bly glo ek het biltong met ’n bietjie vet en droëwors nodig om my weer sterk te maak. Wie weet … dalk het die proteiene regtig gehelp!”
Vryheid van die veld
Voor COVID-19 was Chris ’n ywerige fietsryer en skopbokser. Hy het twee jaar gelede saam met Strydoms Kickboxing Academy ’n skopboks-toernooi ter herinnering aan Jayde Inngs (Panayiotou) gereel.
“Kickboxing was een van die bucket list dinge wat Jayde nog wou doen. Toe vra ek haar ouers of ek dit vir haar kan doen. Hulle het ingestem en ek moes weer begin oefen en die toernooi het gerealiseer.”
Zulu wag
Asof hy staan en afluister om te hoor wanneer Chris dan nou oor hom praat, blaf Zulu buite die sitkamervenster.
Chris glimlag. “Zulu wil inkom. Hy is soos my skaduwee. In die aand kom lê hy langs my bed en slaap.”
Chris en Zulu was altyd onafskeidbaar wanneer hulle na die familieplaas in die Jansenville-distrik toe gegaan het.
“Ons twee sal weer Wilgefontein toe gaan,” sê Chris.
“Zulu mis dit om daar in die veld te hardloop. Ek verstaan hoe hy moet voel, want ek mis daardie uitbundige vryheid ook.”
Maar Chris en Ilse dink nie net aan die tol wat COVID-19 op hom en sy gesin gehad en steeds het nie, hulle dink ook met dankbaarheid aan die reddende engele wat hom en sy familie op hul beproewingstyd bygestaan het.
Dankie aan Dr. Stickells, susters Michelle, Lauren en Nana van Life St. Georges; arbeidsterapeut Liezel; spraakterapeut Laurice; ‘“Sannie” (Cindy), Jenny, Kirsten en al die ander helde van die Aurora- rehabilitasiesentrum; vriende en familie vir al die gebede en goeie wense.

