Catherina Kruger met haar Suid-Afrikaanse Nasionale Posduif-organisasie baadjie wat sy gekry het vir haar uitsonderlike bydrae en prestasies in administratiewe take vir die duiweraad.

Foto: Heilie Combrinck

Daar is groot opgewondenheid onder die Uitenhage Federasie se duiweboere nadat Catherina Kruger die eerste lid, sowel as eerste vrou geword het om ’n Springbokbaadjie te ontvang.

Sy het dié gesogte Suid-Afrikaanse Nasionale Posduif-organisasie-toekenning gekry vir haar uitsonderlike bydrae en prestasies in administratiewe take vir die duiweraad.

Volgens Barney Kruger, ’n lid van Uitenhage Federasie en wedvlugsekretaris van die URPC wedvlugklub, het vroue goed presteer sedert die Federasie se ontstaan drie jaar gelede.

“Orgia Nell was verlede jaar die eerste vrou wat die 18-duif kampioenskap gewen het.

“En nou is Catherina die eerste lid en vrou wat ’n SANPO-baadjie gekry het,” sê Kruger.

Catherina, wedvlugsekretaris van die Federasie, sê sy is baie trots op haar baadjie, “Ek het die afgelope 18 jaar hard gewerk om dié erkenning te kry.

“Die baadjie het vir my ’n besondere betekenis op ’n persoonlike vlak. Dit voel of dit my vlerke gegee het. My oorlede pa, Piet Minnie, sou die heel trotste van almal op my gewees het.

“Voëls was maar nog altyd deel van my lewe want my een oupa het met duiwe geboer en die ander oupa het met kanaries geboer.

“En toe Barney in my lewe kom, het hy gevra of ek saam met hom duiwe sou vlieg. Ek is baie dank aan hom verskuldig; hy ondersteun my ongelooflik in my lewe.

“Baie dankie aan Gerhard Doubell en Barney wat aansoek by SANPO gedoen het vir my toekenning..

“Dankie ook aan die bestuur dat hulle die vertroue in my gehad het en dankie aan die wedvlugsekretarisse – ek werk verskriklik lekker saam met julle almal,” sê Catherina.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article