Die Arende in hulle gholfklere wat deur Two Way Driving School geborg is. Van links is Deon Gerber, Johan Erasmus, Bossie Boshoff (Two Way Driving School), Bernie Gerber en Christo Gerber.

Foto: Verskaf

Drie broers van Kariega en hulle pel, wat almal ‘n liefde vir gholf deel, het besluit dit is tyd dat hulle onder ‘n spannaam speel. En nou staan hulle as die Arende bekend.

Dié Arende bestaan uit die Gerber-broers Deon, Bernie, Christo en Johan Erasmus.

Die Boshoffs, eienaars van Two Way Driving School op Kariega, het besluit om dié viermanskap se gholfklere te borg. Onlangs is dié klere amptelik tydens ‘n spoggeleentheid aan die gholfers oorhandig.

“En so is ons droom bewaarheid. Nou kan ons as die Arende gholf speel,” sê Deon Gerber.

“Ons is redelik bekend op al die gholfbane in die omgewing en sien daarna uit om in ons Arende-gholfklere saam te speel.”

In gholfterme is daar voëltjies (een hou onder baansyfer), ‘n albatros (drie houe onder baansyfer), kondor (vier houe onder baansyfer), ‘n volstruis (enkele sessyfer-putjie-kolhou) en natuurlik ‘n arend (twee houe onder baansyfer). Gerber sê hulle het besluit op die naam Arende, “… want arende vlieg hoog.”

“As ‘n span, sowel as individue, het ons reeds goeie plekke in sosiale golf-kompetisies behaal.

“Ons mees onlangse wen was in die jaarlikse Gamtoos Toerisme Gholfdag wat op Hankey gehou is.”

Gholfers moet op die uitkyk wees vir dié Arende-viermanskap wat nou meer as ooit gefokus is om die baansyfer te klop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article