’n TONEEL wat gelyk het soos die verfilming van ’n aksiebelaaide rolprent met polisie en sekuriteitsmanne wat rondhardloop terwyl inwoners grootoog toekyk hoe misdadigers vasgevat word, het verlede Donderdagmiddag in Campherpark op Despatch afgespeel.

Die boodskap met dié voorval was duide-lik: hier mors jy nie met ons inwoners nie, jy sal jou rieme styfloop.

Die aksie tussen Jansen- en Harveystraat is voorafgegaan deur drie mans in ’n wit motor wat ’n 53-jarige vrou met ’n stootwaentjie, waarin twee kinders was, in Brebnerstraat gevolg het. Een van hul makkers was te voet en het die vrou oorrompel en haar halssnoer ter waarde van sowat R5 000 van haar nek afgeruk.

Thieves

“’n Inwoner wat die voorval gesien het, het per motor die verdagtes agternagesit. Die verdagtes se motor het op die hoek van Botha- en Drommedarisstraat gestol waarna die vier mans uitgespring en weggehardloop het,” sê polisiewoordvoerder kolonel Priscilla Naidu.

Lede van die Despatch-polisie, die K9-honde-eenheid sowel as lede van ’n privaat sekuriteitsmaatskappy, was blitsvinnig op die toneel terwyl inwoners help uitkyk het vir die misdadigers wat oor heinings gespring het om iewers op ’n erf tussen Jansen- en Harveystraat te gaan wegkruip.

Die net van polisie, sekuriteitsmanne en inwoners het al nouer om die misdadigers begin trek en toe hulle uiteindelik van hul skuilplek wou weghardloop, het hulle hul moses teengekom.

“Lede van die K9-eenheid het drie verdagtes ingehardloop en gearresteer. Die vierde verdagte het weggekom,” sê Kolonel Naidu.

Die polisie het in die verdagtes se motor op huishoudelike items, wat vermoedelik tydens ’n huisinbraak vroeër die dag in dieselfde gebied gesteel is, afgekom.

*Twee weke gelede het vier mans in ’n wit motor inwoners helder oordag in Dr HF Verwoerdrylaan en Boomstraat geteiken en besteel van elektroniese toerusting. Dit kon nie bevestig word of daar ’n verband is tussen die voorvalle en die Campherpark voorval nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article