KAN jy dink jy “bedel” twee maande lank kwitansies by Spar-klante, net om dit ’n maand of wat later weer alles te gaan ingee?

Glenise Howard (links) en Quinette Goosen van die Mula-projek tussen die bokse skoolskoene. Fotos:VERSKAF

Dit is wat so plus minus op Uitenhage gebeur het en die uiteinde van hierdie saak is dat 213 laerskoolleerlinge die nuwe skooljaar in splinternuwe skoolskoene kon begin.

Quinette Goosen, een van die drywers van die kwitansies-vir-skoene-projek op Uitenhage, het einde verlede jaar nog erg gesit en tob oor die welstand van weerlose kinders omdat die Mula-herwinningsprojek weens die pandemie-protokolle en die vandalisering van die Allanridge gemeenskapsaal nie voortgesit kan word nie, toe die skoengeleentheid hom voordoen.

  • In kort kom die Mula-projek daarop neer dat kinders, geregistreerd in die Mula-projek, herwinbare plastiek, papier en karton bymekaarmaak en op die Mula-dag inbring sodat dit geweeg kan word. Die gewig bepaal die hoeveelheid Mulas wat hulle betaal word en met dié Mulas kan die kinders dan kruideniersware, skoolbehoeftes of speelgoed in die Mula-winkel, opgestel vir die dag, koop.

Jy sou nie sommer skoolskoene in hierdie Mula-winkel kry nie, omdat skoolskoene baie duurder as sê maar Two Minute Noodles, tee of suiker is. Gevolglik het Quinette dadelik begin plan maak toe Bata (skoene) en Spar in die laaste twee maande van verlede jaar ’n promosie-veldtog gevoer het waarbinne die persoon, wat vir R500 of meer goedere by Spar koop, ’n paar nuwe Bata skoolskoene vir laerskoolkinders teen R40 per paar kan koop

“Sò ’n kans kon ons as Mula-komitee net nie laat verby gaan nie en ons het skouer aan die wiel gesit.”

Al het die COVID-19 pandemie en die vandalisering van die Allanridge-gemeenskapsaal die Mula-herwinningsprojek gestop, bly Mula betrokke in die gemeenskap en het onlangs skoolskoene geskenk.

Deel van hul poging was om soveel as moontlik Spar-kwitansies van R500 of meer te versamel en Quinette het nie gehuiwer om dit te bedel by die klante nie.

“Vaderland…alles vir volk en vaderland!” som Quinette diè groot poging, waarmee 213 pare skoolskoene bekom het, laggend op.

“Altesaam 18 pare van hierdie skoene het ons deur die verskeie ondersteuners van die Mulaprojek gekry. Ons is hulle baie dankbaar.”

“Ons het toe op 18 laerskole besluit. Die kinders wat na die Mulaprojek gekom het, is in meeste van dié skole. Ons besef diè skoene is ‘n druppel aan n baie diep emmer, maar ten minste is dit `n druppel.”

Die Mula-komitee het sy dank uitgespreek aan alle betrokkenes wat die Mula-skoolskoenprojek moontlik help maak het.

– HEILIE COMBRINCK

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article