Dink net: jy loop in gedagte op die sypaadjie en die volgende oomblik is daar ’n harde khuschweeeeee klank agter jou wat al nader kom . . .

Voor jy nog kan omkyk, blits dié harde klank en die rede daarvoor verby en dan sien jy dit: ’n man op sy skaatsbord, wat deur ’n kruis pitboel op volspoed getrek word. Die leisels in die man se hand is geknip aan die harnas van die gitswart gespierde hond.

Dog

Bardy Badenhorst en Irie laat die koppe draai wanneer hulle blitsend deur die strate hulle vryheid geniet. Foto’s: HEILIE COMBRINCK

Dié tefie met die naam Irie, trap blaffend, ongeduldig rond toe Bardy (Johan) Badenhorst, haar mensevriend, “Ho!” roep om eers ’n paar nuuskierige vrae te antwoord.

Die storie werk só:

’n Paar weke voor die streng fase 5 grendeltydperk verlede jaar, het Bardy die DBV op Uitenhage besoek en halsoorkop verlief geraak op Irene, die staffie/pitboel wat toe al ’n paar maande daar was.

“Die mense wou nie dat ek haar aanneem nie. Hulle het verduidelik dat die dupleks waarin ek toe nog gebly het, ‘n te klein ruimte vir só ‘n energieke hond is.”

Bardy het geweier om dié nee te aanvaar, veral omdat hy geweet het haar tyd vir lewe raak al hoe minder omdat sy al lankal op DBV-hok was.

“Dit was net ’n kwessie van tyd voor ek na die huis wat ek in Richmond Hill gekoop het, sou trek. Ek het aangehou en aangehou by die DBV tot hulle uiteindelik ingestem het. En toe verander ek haar naam na Irie … Irene klink vir my te oud vir haar,” verduidelik die 31-jarige argitek van Gqeberha.

’n Week later het pres. Cyril Ramaphosa vlak 5 van die grendeltydperk afgekondig om die verspreiding van COVID-19 te probeer bekamp.

“Toe was dit net ek en Irie. Ek het met haar gepraat en alles, maar sy het nie regtig op my gereageer nie. Omdat ons in daardie tyd nêrens heen kon gaan nie, het ek baie tyd gehad om uit te werk wat haar sal laat tiek.”

Op ’n dag het Bardy gewonder of Irie nie dalk Xhosa is nie en daarom nie op sy Afrikaans reageer nie.

“Toe roep ek Yiza apha! (kom hier) en daar kom sy!”

Besties

Bardy Badenhorst en Iri, skateboarding.

Gevolglik het Bardy grendeltydperk 5 goed benut om sy Xhosa woordeskat uit te brei en ’n onverwoesbare vertrouensband met Irie te vestig.

Met die eerste grendel-verslappings, wat oefening tussen 06:00 en 09:00 toegelaat het, het Bardy met Irie beurend in haar harnas gaan stap.

Een oggend het hy gewonder hoe hy en Irie met sy skaatsplank oor die weg sal kan kom. Bardy se Xhosa-woordeskat was toe ook al van só ’n aard dat hy so ’n paar instruksies aan Irie kon gee voor hulle tweetjies die skaatsplank-pad gevat het.

“Irie het dadelik geweet wat om te doen. Sy is mal daaroor. Ek sê jou, sy sal net hardloop en hardloop en hardloop!”

Natuurlik het Bardy al ’n paar broeke stukkend geval, maar dit is vir hom deel van die vet pret om ’n hond soos Irie gelukkig te kan hou.

“Ek dink sy het ’n ingeboude horlosie. Elke oggend vyfuur kom spring sy op my in die bed om my wakker te kry. Sy maak seker daar is genoeg tyd vir haar stap of skaatsplank-hardloop voor ek kantoor toe gaan.”

Vir die inwoners van Richmond Hill is Bardy en Irie ’n bekende gesig, blitsend deur die strate, maar daar is sommige mense wat hom in die verbyry toesnou dat hy sy hond mishandel en dat sy haar pote seker stukkend hardloop.

Hy draai haar pote een na die ander om. Elkeen het nog volledige vastrap-sole.

“Gereelde voet-inspeksie is deel van die dril,” sê Bardy, “nie ek of sy kan vernielde voetkussinkies bekostig nie, want dit sal stilsit vir my en haar beteken.”

Ook maar goed so, want die prentjie van die man op die skaatsplank met die gespierde kruis-pitboel wat hol dat die skaatsplankwiele bly rol, is vir menige hondeliefhebber ’n kosbare prentjie in hierdie donker COVID-tye.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article