DIE Hoërskool Despatch se netbalafrigters fokus nie net op goeie afrigting sodat die netbalbal-bal deur die doelnet rol nie, maar ook dat spelers hul rol in die samelewing volstaan deur welsynsprojekte te onder-steun en só die doel van omgee geniet.
Die skool se netbalafrigters het besluit om die Despatch Superspar Skoenprojek te ondersteun. Deur meer as R500 by die winkel te spandeer, kry kliënte ’n skoenbewys en kan hulle skoolskoene vir R40 per paar aankoop en dit dan skenk aan ’n skool van jou keuse.
“Dit is lekker om te gee en om ’n verskil te maak in soveel jong leerders se lewens. En die mooi van hierdie projek was om te sien hoe opgewonde en onselfsugtig die spelers en afrigters geraak het om terug te gee aan hul gemeenskap,” sê Theresa Prince, netbalafrigter en bemarker van Hoërskool Despatch.
“Elke kind verdien daardie nuwe-skoen- goedvoel-gevoel.
“Daar is soveel kinders wat skooltoe gaan met ou skoene, stukkend skoene of skoene wat te groot of te klein is.”
Despatch se netbalspelers het daarin ge-slaag om 90 pare skoene in te samel.
Dit is aan Voorbereidingskool Despatch geskenk.
Madeléne Sachse, skoolhoof van dié skool, was oorstelp van vreugde met die netbalspelers en afrigters se omgee. In ’n boodskap aan die skool het sy gesê:
“Baie dankie vir hierdie wonderlike, onselfsugtige gebaar. Mens aanvaar skoene as vanselfsprekend, totdat ’n mens sien in watter toestand sommige leerders se skoolskoene is. Julle het ’n verskil gemaak in soveel leerders se lewens.
“Moeder Theresa het gesê dat daar nie groot dade is nie, wel klein dade wat met groot liefde gedoen word.
“Dankie vir julle liefde.”
– HEILIE COMBRINCK




