Fredrick Mafiet gaan Sondag die Cape Town Cycle Tour se 109km trap ter nagedagtenis aan eerwaarde Dawie Loff. Foto:HEILIE COMBRINCK


’n FIETSRYER van Uitenhage gaan Sondag die taai 109km van die Cape Town Cycle Tour trap, ter nagedagtenis aan ’n eerwaarde wat ’n groot rol in sy lewe gespeel het.

Fredrick Mafiet sê vanjaar se fietstoer is vir hom spesiaal want, “Eerwaarde Dawie Loff was 20 jaar lank by die Roselane Congregation en omdat dit vanjaar 2020 is, en dit my tweede Argus is, wil ek dit tot eer van hom gaan ry.”

Eerwaarde Loff is in 2018 op sy verjaardag, 5 November, oorlede.

“Hy het ontsettend baie vir sy gemeente gedoen en moes verskeie buitestasies van die kerk besoek. Geen opoffering was vir hom te veel nie en hy het altyd die ekstra myl gestap.

“Hy het ’n besondere invloed in my lewe gehad. Sy wysheid, nederigheid en medemenslikheid sal ek my lewe lank onthou,” sê Mafiet.

Mafiet sal vergesel word deur mede-fietsryers van Cyclone Riders, ’n groep plaaslike fietsryers.

  • Vanjaar is dit die 42ste keer dat dié wêreldbekende fietstoer aangebied word. Dit het in 1978 begin en was aanvanklik ’n protes-fietstoer, om die destydse stadsraad van Kaapstad bewus te maak van fietsryers en hul veiligheid op die stad se besige paaie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article