Colin Bartle, skoolhoof van die Hoërskool Despatch, is verlede week tydens ’n Zoom-vergadering eenparig as waarnemende voorsitter van die SA Skole-krieketraad aangewys.
Dit is die eerste keer dat iemand uit die Oostelike Provinsie dié pos beklee. Hy dien as waarnemende voorsitter nadat Shaheed Khan afgetree het.
Bartle is al meer as 10 jaar vise-voorsitter van dié raad en sien sy aanstelling as ’n aangename uitdaging sowel as erkenning ná baie jare se harde werk vir skolekrieket.
Hy het ook vir drie jaar die OP skole-krieketspan afgerig. As afrigter op skoolvlak het hy 26 OP-krieketspelers opgelewer waarvan vyf van hulle vir die SA-skolespan gespeel het, met onder andere Nantie Hayward, Dewald Senekal en Jan Stander wat vir Skotland krieket gespeel het.
“Ek was vir jare verantwoordelik vir die skryf van die SA-skolekrieket se veranderde grondwet, veral ten opsigte van transformasie.
“Die doel is om meer swart Afrikane en meisies in die spel betrokke te kry en topspelers op te lewer,” sê Bartle.
“OP is ’n Aspoestertjie-provinsie as dit kom by krieket. Tog hoop ek dat met my verkiesing as waarnemende voorsitter, ’n positiewe bydrae kan lewer om OP-krieket weer in wenformaat te laat ontwikkel.
“Veral met die nuwe rigting wat ons hierdie jaar gaan inslaan om meer streeksgebonde toernooie en minder nasionale toernooie te hou.
“Die doel is om meer spelers in kleiner provinsies op grondvlak die geleentheid te gee om krieket te speel.”
Bartle sê daar sal vier nasionale toernooie wees en die res sal streeksgebonde wees. Hy is veral opgewonde oor meisies-krieket en dat daar vir hulle o.13-, o.15- en o.16-toernooie gaan wees.
“Daar is ook ’n groot onontginde poel van talentvolle swart kriektspelers wat ons graag met nuwe ywer in veral die streekstoernooie, die geleentheid wil bied om die speelveld te betree,” sê Bartle.
Bartle dien ook as tesourier op die SA Skole-hokkieraad.
Hy spreek sy hoop uit dat hy by SA Skole-krieket se algemene jaarvergadering in April 2022 as voorsitter van dié raad verkies sal word.




