’n Boom wat nie water nodig het nie, en “geplant” is as ’n teken van hoop, troon sowat nege meter uit bo die waterval-parkie in Despatch se middedorp.
“Ons het ’n sonhorlosie, windwyser, waterwiel en nou hierdie ‘Boom van Hoop’,” sê Frans Swanepoel, raadslid van Despatch.
“Met die verkiesing het ek die mense dopgehou wat kom stem het. Mense in rystoele, sommiges met suurstofbottels op hul skote, bejaardes wat moeilik loop, en ’n vrou wat tien dae na ’n dubbele mastektomie bereid was om in die lang tou te kom staan om te stem.
“Ek het besef hulle word deur hoop gedryf. Die hoop dat mense, wat na hulle belange kan omsien, ingestem word sodat dienslewering kan geskied en dat hulle dorp opgepas word.”
Louis Nortier en sy span van die munisipaliteit se elektriese department op Despatch is jaarliks verantwoordelik vir die oprig en instandhouding van die dorp se Kersliggieversierings in die strate. Vanjaar het hulle besluit op ’n nuwe toevoeging, ’n reuse Kersboom.
“Toe ek van dié boom hoor, het ek geweet dit moet ’n Kersboom van Hoop wees. Daardie hoop waarop almal hoop, hoop van beterskap,” sê Swanepoel.
Nortier sê die stam van die Kersboom is gemaak van ’n ou straatligpaal. “Die paal is in ‘n ongeluk beskadig. Ons het die beskadigde deel afgesny en die res herwin vir die boomstam.”
Die boom is keurig versier met sowat 200- meter se Kersliggie-tou wat uit sowat 4 800 liggies bestaan.
Volgens Nortier word al die dorp se Kersliggies aan die einde van Desember afgehaal, noukeurig deurgegaan om stukkende liggies te vervang, en dan in ‘n stoor gebêre vir die volgende Kersseisoen.
Swanepoel sê, “daar is soveel negatiewe dinge wat om ons gebeur. Die idee van dié boom is dat as mense daarna kyk, dit die positiewe sal aanwakker.
“Dit waarop ‘n mens fokus, dit wat in jou gedagtes is, is dit wat jou optrede bepaal. Ons almal kan regtig doen met meer positiwiteit en hoop,” sê Swanepoel.



